’n Fees van ‘shiraz en charcuterie’ wag op Anthonij Rupert Wyne

Een van die beste en lekkerste kos-en-wynkombinasies is shiraz en charcuterie, en smulpape kan uitsien na hierdie twee gunstelinge wanneer die jaarlikse Shiraz & Charcuterie-fees op Saterdag, 26 Mei, op die asemrowende Anthonij Rupert Wyne-landgoed buite Franschhoek plaasvind. Hierdie gewilde makietie word van 11vm tot 4nm aangebied en sal die herfs op ’n hoë noot afsluit. Die fees bring van die land se voorste shiraz-wyne en watertandlekker spesialisvleise byeen.

 

Bo en behalwe Anthonij Rupert Wyne se beperkte Anthonij Rupert Syrah, Cape of Good Hope Riebeeksrivier Shiraz en Protea Shiraz, sal wyne van hierdie kultivar van 18 van die land se bekendste produsente ook teenwoordig wees, insluitende Thelema Mountain Vineyards, Mullineux Wines, Rickety Bridge Winery, Stark-Condé Wines en Hartenberg Wine Estate.

 

Besoekers sal dus nie net hul smaakkliere kan oorgee aan die vele geure van shiraz nie, wat donker vrugte en speserye insluit, maar die wyne ook kan pasmaak met ’n keur van die beste plaaslike en internasionale charcuterie, van salami en bereide vleise tot geurige chorizo. En wanneer daar iets geproe word wat die tong aan die gons sit, en daar sal baie wees, kan daar ook sommer daarvan aangeskaf word vir tuisgebruik.

’n Oorvloedige Anthonij Rupert Wyne-oestafel gevul met vars, seisoenale slaaie; ’n verskeidenheid sampioene; olywe; piekels en brandrissies sal verder sorg dat niemand honger ly nie, terwyl die Macaroon Bar die soet tande tevrede sal hou met dekadente lekkernye soos gesoute karamel, sjokoladekersies en melktert.

 

Voorafbespreking is noodsaaklik aangesien plek beperk is. Die kaartjies kos R280 per persoon, wat toegang en die proe van die wyne en charcuterie insluit, en kan by www.webtickets.co.za gedoen word.

 

Vir enige navrae of meer inligting, kontak die organiseerders, DnA Event Management, by 084 207 3820 of info@dnaevents.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>