'n Dag van wyn, afval, skaapkop en baie meer!

Date posted:
February 23, 2010

Die Weskus en ek het ‘n besonderse verhouding. Dit verteenwoordig vir my goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap. Elke geleentheid om dus in daai geweste te gaan kuier, gryp ek met albei hande aan.

 

Dit is dus nie vreemd dat ek en die mense van die Weskus-wynroete mekaar teen hierdie tyd redelik goed ken nie! Toe hulle my dus eendag vra of ek nie ‘n wynrubriek of twee (dis nou met sogenaamde celebrities!) in daai geweste wil kom doen nie, het ek nie ‘n breukdeel van ‘n sekonde gehuiwer nie.

 

En so vat ek en Albert Maritz, bekende televisie-en verhoogpersoonlikheid, eendag die pad soontoe in ‘n geleende Suzuki Grand Vitara V6. ‘n Bietjie later meer oor hierdie vuurwa. Ons het ‘n afspraak gehad met die pragtige Monika Greeff van die Weskus-wynroete en die mense van Lutzville-kelder.

 

Maar eers bietjie meer oor my “celebrity”-gas. Albert is die bekendste vir sy werk in "Konings", "Torings" en "Arende" op televisie, en natuurlik vir die brandewynadvertensie op TV waarin hy burgemeester, posmeester en stasiemeester was. Maar hy was ook al in "Egoli", "Sewende Laan" en "Isidingo". Hy was ook mede-regisseur en vervaardiger van Kyknet se reeks, "Impresario".

 

As verhoogregisseur het hy reeds naam gemaak met stukke soos "Faan se Trein" en "Faan se Stasie", Frank Opperman in "Pottie Potgieter", Ian Roberts se twee eenmanproduksies in 2008, Marion Holm in "Uit die Agterste Bank", kabarette soos "Van Wyk Louw en die Meisies" en "Elders aan Diens", en meer onlangs David Brink in "Virrie Voëls". Sy "Taraboemdery" het op Innibos 2009 die toekenning vir Beste Bydrae deur 'n Kunstenaar gewen.

O ja, hy speel ook in die Emmy-genomineerde TV-reeks, "Home Affairs", wat in September 2009 op SABC1 begin het, en het 'n klein rolletjie in "Invictus" - 'n film met Matt Damon en Morgan Freeman, en regie deur Clint Eastwood.

 

 

Links: Dit het geil gegaan daar langs die besproeiingskanaal, maar niemand het gekla nie!

 

 

Net voor Lutzville het die wynkelder en sy mense ons ingewag. Hier voel jy altyd of die mense jou al jare lank ken, al het jy nou net vir die eerste keer aangekom! Na die bekendstellings het ons ons plek langs ‘n tafel vol wyn gaan inneem – dis nou ek, Albert, Monika en Gideon Theron en Roy Thorne van Cape Diamond Wines, beter bekend as Lutzville-kelder.

Lutzville se wyn word in twee reeks verdeel, naamlik die reserwereeks bekend as The Diamond Collection en die vlagskip-reeks, ook bekend as net Lutzville.

Maar eers so ietsie oor die kelder. Dis glo die tweede grootste kelder in Suid-Afrika met 101 lede. Altesame 47 000 ton druiwe word jaarliks bewerk en sowat 2 miljoen liter word gebottel. Hulle maak nie minder nie as 24 miljoen liter wyn hier en nog 15 miljoen liter sap. So, Cape Diamond Wines is geen boetiekwynmakery nie!

Maar terug na die geproe. Albert skat sy wynkennis so op 3 uit 10 en sê sy wynkeuse hang alles af van wat op die vuurtjie is. Hy is egter ‘n groot voorstander van rooi, wit en rosé! Oukei!!!

Ons het altesame 11 wyne geproe en van daai tafel weg gestap met die besef dat hier nie net lekker genietwyne gemaak word nie, maar ook wyne wat sommer baie goeie waarde vir geld bied.

Vir Albert het twee wittes, The Diamond Collection Sauvignon Blanc 2006 en The Diamond Collection Chardonnay 2008, kop-aan-kop op sy telkaart geëindig, terwyl die The Diamond Collection Shiraz 2007 loshande gewen het onder die rooies.

 

 

Regs: Enigiemand vir skaapkop? Albert het die ding ook maar net so 'n skuins kyk gegee en toe slaai ge-eet. Hier staan hy en kyk na die gaar kop terwyl die ander gaste gereed maak om in te klim.

 

 

Op my telkaart het drie wittes met eweveel punte bo-aan my telkaart geëindig, naamlik The Diamond Collection Sauvignon Blanc 2006, die Lutzville Chenin Blanc 2009 en The Diamond Collection Chardonnay 2008. Ook onder die rooies het meer as een bo-aan my telkaart geëindig. Hulle was die Lutzville Cabernet Sauvignon 2007 en The Diamond Collection Shiraz 2007. Ek is egter met ‘n kissie elk van daai Chenin Blanc en die Lutzville Ruby Cabernet huistoe!

As ons egter gedink het die dag was verby, het ons onsself lelik misgis! Eers was daar gebraaide koedoe, springbok en slaai langs een van die besproeiingskanale (wat ons per kwadbaaik bereik het!) – en wyn uiteraard! – en toe is ons Strandfontein toe vir skemerkelkies en skaaphappies by die see wat my hart beslis nie goed gedoen het nie! Maai ai, lekker bly darem maar lekker!

Vandaar is ons terug kelder toe vir aandete, en wat is dan nou lekkerder as afval vir voorgereg (met bypassende wyn) en skaapkop en tuisgebakte brood vir hoofgereg (weer eens met bypasende wyn). Daar was ook slaai, maar mens neuk mos nie sulke boerekos op met slaai nie!

Ek glo mens moet die meeste dinge darem een keer probeer en aangesien skaapkop vir my vreemd was, moes ek dit eenvoudig probeer. Daai nag het die bloed soos die Oranjerivier in vloed deur my are gestroom en het my hart my herhaaldelik gesmeek om liewers nie weer nie!

Ou Albert het die Maritz-naam op groot skaal weg gegooi en slaai geëet! Maar hy moes saamstem: die Weskus se wynmense is ‘n lekker klomp wat die lewe sommer ekstra lekker maak! Hier word ‘n inkommer sommer gou-gou ‘n pêl.

Wynwiele:

Ek het reeds die voorreg gehad om die hele reeks Grand Vitara’s te toetsbestuur en verstaan vandag hoekom die Aussies van alle mense Suzuki se spoggerige SNV as hul gunsteling beskou.

 

Links: Pragtig en elegant, en 'n bielie op die pad en in die veld. 

Dis ‘n uitmuntende voertuig, maak nie saak uit watter hoek jy na hom kyk nie. En die V6 met sy kragtige en seepgladde werkverrigting en hoë vlakke van gerief het van my ook ‘n groot aanhanger gemaak. As ek in die mark was vir ‘n kompakte SNV, sou hy beslis onder my top drie gewees het … en heelwaarskynlik heel eerste!

Selfs Albert moes ‘n slag of wat op die oop pad erken dat die Suzuki Grand Vitara V6 hom om elke hoek en draai verras.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram