Die geskiedkundige Muratie-wynlandgoed wat in die premie-wynwyk Simonsberg-Stellenbosch geleë is, het hul eerste vlagskip-witwyn bekend gestel, ‘n gehoute wit versnit, die Muratie Laurens Campher 2010.
Die bekendstelling van hierdie wyn is tydige erkenning aan Laurens Campher wat dit alles begin het toe die plaas, De Driesprong (drie paaie wat byeen kom), in 1685 aan hom toegeken is deur die Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel, wat hom aangeraai het om eikebome en wingerd aan te plant. Die res is geskiedenis, soos die gesegde lui, maar die netjies onderhoude plaas met sy ironiese naam behou steeds sy ouwêreldse sjarme. Die naam Muratie kom van die Nederlands vir murasie wat bouvallig beteken, soos dit was toe die plaas se naam in 1911 van De Driesprong na Muratie verander het.
Die Muratie Laurens Campher 2010 is ‘n versnit van 39% chenin blanc, 32% sauvignon blanc, 24% verdelho en 5% chardonnay. Al die kultivars behalwe die sauvignon blanc het in vate gegis. Altesaam 60% van die wyn is in nuwe Franse eikehoutvate verouder en die res in tweedevulvate. Na wildegisgisting van drie weke het die wyn appelmelksuurgisting ondergaan, toe houtveroudering van nog ses maande.
Die wyn, met sy intense geure wat wissel van kamferfoelie tot pynappel, se varsheid word voorsien deur ‘n fyn balans tussen suur en suiker. Die wyn het ‘n stewige ruggraat wat herrinner aan die gelyknamige Laurens Campher. Die Muratie Laurens Campher 2010 kos sowat R125.
Hierdie unieke wit versnit bring hulde aan die man wat sy staal, passie en deursettingsvermoë getoon het om by die vrou van sy drome te wees. Laurens het Ansela van de Caab, ‘n slavin by die Kasteel in Kaapstad, ontmoet en op haar verlief geraak terwyl hy vir die Nederlands Oos-Indiese Maatskappy gewerk het. Hy het ‘n groot liefde vir die grond gehad en wou altyd graag ‘n boer word. Toe die Goewerneur van die Kaap dus De Driesprong aan hom toeken, het hy onmiddellik na die plaas getrek. Hy het dikwels die 64 km Kaapstad toe en weer terug, ‘n reis van drie dae, onderneem om sy geliefde Ansela te sien. Hierdie verhouding het 14 jaar geduur en in hierdie tyd het Ansela en Laurens drie kinders gehad. Ansela het uiteindelik geleer om Hollands te praat en sy is in die Kasteel gedoop, wat haar in staat gestel het om in 1699 vrygestel te word. Hulle is hierna getroud en het met hulle drie kinders op die plaas gaan bly. Die eikeboom wat Ansela geplant het om hul huwelik te seën, staan steeds op Muratie, en so ook die klein, wit huisie wat Laurens vir hulle gebou het, hul eerste tuiste.
Links: Die ingang na die proelokaal vat jou baie dekades terug en is beslis iets om te ervaar, om nie van die spogwyne te praat nie!
Heel gepas is die ander Muratie-vlagskipwyn die Ansela van de Caab, ‘n cabernet sauvignon-gedrewe rooi versnit wat hulde bring aan Ansela wie se merkwaardige storie deel is van Suid-Afrika se volkskunde as ‘n ikoon van die stryd teen die gruwels van slawerny in die Kaap in die laat 17de eeu. Hierdie slawemeisie, wat gebore is in die slawekwartiere van die Kasteel, het slegs ‘n doopnaam gehad. Haar van “van de Caab” is die Hollands vir “van die Kaap” soos die geval was met alle slawe wat daardie tyd in die Kaap gebore is.
Die Muratie Ansela van de Caab 2007 is ‘n versnit van 48% cabernet sauvignon, 37% merlot, 12% cabernet franc en ‘n klein bietjie shiraz (3%). Laasgenoemde is uitgelaat uit die 2008-oesjaar wat dit ‘n klassieke Bordeaux-versnit maak. Hierdie wyn is in onlangse jare twee keer aangewys vir 5 sterre in die Platters-wyngids en die 2007-oesjaar het pas 90 punte gekry in die Wine Enthusiast van Amerika se Maart 2011-uitgawe. Die 2006-oesjaar is as die wyn van die skou op WOSA se 2009- generiese wynproe in Hamburg aangewys deur een van Duitsland se beste sommelier-tydskrifte, Weinwirdschaft.
Ansela van de Caab word van die landgoed se beste wingerdstokke gemaak wat aanvanklik geplant is om hierdie spesifieke versnit te maak. Die druiwe word met die hand gepluk en gehanteer en in Muratie se oop gistenke gegis. Appelmelksuurgisting vind in Franse eikehoutvate plaas. Na 12 maande in vate word die kultivars afsonderlik geproe om die finale Ansela-versnit te skep, wat dan vir ‘n verdere agt maande in Franse eikehoutvate verouder word. Hierdie ryk, komplekse wyn is ‘n ware refleksie van die sterk invloed wat die Simonsberg-Stellenbosch-omgewing het op die rooiwyne wat hier gemaak word en hul potensiaal om grasieus te verouder.
Die Ansela van de Caab 2007 toon lewendige, aantreklike geure van rooi kersies, pruime en framboos. Die gekonsentreerde mondgevoel het ‘n oorvloed geure wat wissel van intense vrugte tot soet speserye en sigaarboksaromas. Die ryk geure en fluweelsagte tanniene is uitmuntend vervleg om ‘n gebalanseerde wyn te skep wat lank nadat die laaste druppel gesluk is nog talm. Die cabernet sauvignon gee die wyn ‘n sterk ruggraat, wat deur die cabernet franc aangehelp word, terwyl die merlot die geure na vore bring. Die Muratie Ansela van de Caab 2007 kos sowat R160.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast