Mundus Vini beloon Kleine Zalze met ‘Beste Produsent: Suid-Afrika’-titel

Met die 2020-oes in volle swang, het Kleine Zalze se wynmaakspan baie goeie nuus én erkenning vir hul harde werk ontvang. Mundus Vini – een van Duitsland se voorste wynkompetisies met wye internasionale erkenning – het Kleine Zalze as “Beste Produsent: Suid-Afrika” aangewys.

Die “beloning” sluit nie minder nie as ses goue medaljes in, vir vier Kleine Zalze Vineyard Selection-wyne (die Chenin Blanc 2019, Chardonnay 2019, Sauvignon Blanc 2019 en Shiraz 2017). Goud is ook aan twee Family Reserve-wyne toegeken (die Shiraz 2016 en Cabernet Sauvignon 2016). Om die kroon te span, is die gesogte trofee vir “Beste op Skou Suid-Afrika Rooi” aan die Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2016 toegeken.

Mundus Vini is in Duitsland gesetel en jaarliks word 11 000 wyne van regoor die wêreld ingeskryf sodat die internasionale beoordelaarspaneel, wat uit wynkenners, sommeliers, spesialiteitshandelaars, joernaliste en wetenskaplikes bestaan, dit kan beoordeel. Die uitslae word net voor die jaarlikse ProWein – die wêreld se voorste handelskou vir wyne en spiritus wat in Düsseldorf gehou word – bekend gemaak.

Kleine Zalze se Mundus Vini-oorwinning volg enkele maande nadat dit in die VK uitgesonder is as “Beste Nuwe Wêreld-Produsent”. Dié aankondiging deur die multi-nasionale Sommelier Wine Awards (SWA, het beteken dat Kleine Zalze hierdie triomf vir die tweede agtereenvolgende jaar én ’n derde maal behaal het nadat die landgoed in 2015 ook dié titel ingepalm het. Geen ander deelnemer het dit nog ooit vantevore reggekry nie. 

Die wyne wat by vanjaar se Mundus Vini uitgesonder is, kom uit portefeuljes wat voortdurend tuis en oorsee bekroon word. Die kompetisie se “Beste op Skou Suid-Afrika Rooi”, die Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2016, is gemaak van druiwe van twee Kleine Zalze-plase, die een by Stellenbosch en een by Faure. Dis ’n donker, peinsende wyn in sowel die neus as die mond. Nuanses van donker pruim op die middel-tong maak later plek vir ’n lang nasmaak van skeutjies witpeper. Die wyn word as veelsydig beskryf – met sowel sout- as vrugtegeure – en met ’n soepel tannien-struktuur wat veroudering goed sal beloon word.

Op die foto pronk Kleine Zalze se Keldermeester, Alastair-Rimmer, die grootbaas, Kobus Basson, en sy wynmaker, RJ Botha. Veels geluk manne, en welverdiend!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>