Mountain Ridge lig sluier op twee spogwyne

Die Breedekloof-wynroete sluit 22 wynprodusente in die Rawsonville-, Slanghoek-, Goudini- en Breederivier-omgewings in. Hulle wissel van boetiekprodusente tot landgoedere. Die meeste van laasgenoemde word deur families besit.

Een van dié produsente is Mountain Ridge Wines wat in 1949 as Romansrivier Winery ontstaan het. Die wynmakery word vandag besit deur die 20 lede wat druiwe verskaf vir sy reeks wyne wat bestaan uit de Liefde, Jail Break, Mountain Ridge en Romansrivier.

Twee wyne wat in beperkte volumes beskikbaar is en onder die Romansrivier-etiket bemark word, is onlangs bekend gestel.

Die Romansrivier Steen 2019 is uitsluitlik van chenin blanc gemaak en is die ideale uitdrukking van sy terroir en die wynmakery se sewe dekades van wyn produseer. Hierdie volronde wyn met sy vele lae straal ’n reeks geure uit wat deur sy puik tekstuur gekomplementeer word. Daar is sitrus en klipvrugte, amandels, hooi en botterkaramel. Dis ’n lewendige wyn met ’n goed gebalanseerde en vars suur wat sal verseker dat dit goed verouder, tot 10 jaar.

Tydens die wynmaakproses is die sap toegelaat om twee uur lank in kontak te wees met die doppe om groter kompleksiteit teweeg te bring. Na gisting het die wyn ’n maand lank op sy fyn moer deurgebring voordat dit in Franse eikehoutvate van verskillende grootte verouder is. Slegs die heel beste vate is gebruik vir die finale versnit.

Hierdie wyn het 93 punte in Tim Atkin MW se South African Wine Report aangeteken en 92+ punte in Greg Sherwood MW se Wine Safari.

Die Mountain Ridge Romansrivier Steen 2019 kos R160 per bottel

Die Vino Rood 2018 is ’n versnit van 95% shiraz en 5% cabernet sauvignon. Dis ’n komplekse dog elegante wyn wat uitlokkende geure van helder rooi vrugte soos framboos en braambessies ten toon stel wat lei tot truffel, mokka en sigaarboks. Daar is ook ’n interessante rokerigheid te bespeur. Soepel tanniene lei tot ’n lang, stadige einde.

Die wyn het 12 maande in Franse eikehoutvate deurgebring en weer eens is net die beste vate gekies vir die finale versnit.

Hierdie rooi versnit kan tot 15 jaar verouder onder die regte omstandighede en kos ook R160 per bottel.

Vir meer inligting, skakel 023 004 1492 of stuur ’n epos aan marketing@mountainridge.co.za, of besoek www.mountainridge.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>