Mountain Ridge Cellar: Plattelandse gasvryheid … gebottel!

Jailbreak. De Liefde. Romansrivier. Nee, dis nie boektitels nie, maar die name van wynreekse uit die portefeulje van Mountain Ridge Cellar, ’n wynmakery in die weste van die natuurskone Breedekloof en so 5 km suid van Wolseley.

Maar voor ek by die wyne kom, eers so bietjie geskiedenis. Of eerder, die storie agter die storie want elke wynmakery het mos ’n interessante storie te vertel. Mens moet net bietjie “grawe”!

Die asemrowende Breedekloof is die tuiste van Mountain Ridge.

Mountain Ridge se kelder is geleë op die oorspronklike Romansrivier-plaas en teenaan die spoorweghalte met dieselfde naam. Die plaas Romansrivier was een van die eerste wat toentertyd anderkant die Breederivier toegeken is. Dit is in die vroeë 1700s aan ene Hercules du Pres toegeken, maar die oorsprong van die naam is onbekend.

Romansrivier-kelder is op 5 Maart 1949 gestig nadat die grond vir die kelder geskenk is deur die destydse eienaar van die plaas. Die eerste direksievergadering is op 25 Mei 1949 in die Romansrivier Skool gehou. In 2011 is die naam verander na Mountain Ridge Cellar (Pty) Ltd.

Kos, wyn en natuurskoon vir die avontuurlustiges is volop in die Breedekloof.

Ofskoon Mountain Ridge Cellar meer bekend is vir die produksie van grootmaatwyn vir bekende handelsmerke soos KWV, die destydse Stellenbosch Boerewynmakery (SBW), Distillers en Uniewyn (nou bekend as DGB) – van droë wittes en rooies tot soetwyne – is daar sedert die laat tagtigerjare van hierdie wyn gebottel, hoofsaaklik vir die aandeelhouers en die omliggende omgewing. ’n Nuwe en skerper fokus op gebottelde wyn het egter in 2017 begin en vandag spog hierdie kelder met wyne wat reeds etlike toekennings ingepalm het. En as mens na hul pryse kyk, wonder jy of iemand besig is om jou been te trek!

Gesellige wyn vir gesellige mense, dis wat Mountain Ridge bied.

Mountain Ridge is beslis nie ’n boetiekkelder nie! Dis ’n grote, en tog spreek die toekennings vir sy wyne van ’n klem op gehalte wat mens meer by kleiner wynmakerye verwag. Waar die kelder in 1950 net meer as 3 100 ton se druiwe ingeneem het, het dié syfer gestyg tot 8 500 ton vanjaar. Sowat 7 000 ton is afkomstig van sy 15 lede.

Mountain Ridge se nuwe wynmaker, Carel Hugo, het verlede jaar Darling Kelder verlaat en by die Breedekloofse kelder aangesluit op soek na nuwe uitdagings.

“Ek was vir onderhoude by ’n paar kelders,” vertel hy terwyl ons die een wyntjie na die ander proe, “maar toe ek hier wegry, het ek geweet waar ek graag wil wees. Ek het onmiddelik van die mense gehou, hul gasvryheid, hul vriendelikheid, hul egtheid. Geen pretensie nie, die platteland op sy beste!”

Carel en jors troelie besig om baie gesellig te wees. Die wyne het baie tot die geselligheid bygedra!

En, sê Carel, mens proe hierdie gasvryheid en vriendelikheid in al Mountain Ridge se wyne. “Dis wyne sonder pretensie, gemaak om geniet te word en te deel. Hier word wyn vir elke smaak en voorkeur gemaak, van die ‘informele’ en gemaklike De Liefde-wyne tot die meer ‘formele’ en effe ernstiger Mountain Ridge- en Romansrivier-wyne.”

Die De Liefde-reeks bestaan uit ’n Chenin Blanc, Cabernet Sauvignon Merlot-versnit en die Smooch, ’n rooskleurige vonkelwyn wat glo oorloop van aarbei-, kersie- en framboosgeure. O ja, en daar’s ook ’n druiwesap met die tong-in-die-kies-naam Parsgetroud! En die kersie op die koek is die pryse, wat wissel van R40 tot R80.

En as die “liefde” opraak en jy voel vasgevang in ’n knellende “droogte”, breek weg en kies een van die kelder se 5 JAIL BREAK-wyne wat ’n Chenin Blanc, Viognier, Pinotage and Shiraz insluit. Hul pryse wissel van R65 tot R75.

Die kelder se wyne is geen vreemdelinge vir toekennings nie.

“Ons Mountain Ridge-wyne bestaan uit ’n Sauvignon Blanc, ’n Shiraz, ’n Merlot en ’n Cabernet Sauvignon,” verduidelik Carel, “en hulle bied sowel uitstekende gehalte as waarde vir geld.” En wie kan stry as nie een van hierdie wyne naby R100 per bottel kom nie!

“Ons premie-wyne, en dus die vlagskipwyne van die kelder, staan bekend as die Romansrivier-reeks. Dit sluit die Cabernet Sauvignon Reserve en die Shiraz Reserve in. Hulle is gemaak om goed te verouder en kan maklik tot 10 jaar in die bottel deurbring as dit reg gestoor word. Albei is volronde wyne met ’n talmende nasmaak.”

Toe ons einde verlede jaar daar was, is hierdie wyne, uit die 2014-oesjaar, weg gegee teen R85 per bottel! As ek plek gehad het in my ou “keldertjie” …

Mountain Ridge maak wyn vir elke smaak, en elkeen bied puik waarde vir geld.

Die wynmakery is natuurlik ook geen vreemdeling vir toekennings en medaljes nie. Sover terug as 1976, toe die kelder nog as Romansrivier bekend was, is toekennings ingepalm. Destyds het hul Clairette Blanche weg gestap met ’n medalje by die Kaapse Wynskou wat op die Goodwood-skouterrein gehou is. Later is hul Colombar beloon met ’n trofee (meer as een keer!), gevolg deur hul Cabernet Sauvignon en Chardonnay. Meer onlangs het hul Shiraz (goud by Veritas), Cabernet Sauvignon (silwer by Michelangelo), Merlot (silwer by Veritas), Chenin Blanc (brons by Veritas), Pinotage (silwer by China Wine & Spirits Awards) en Viognier (brons by Old Mutual Trophy) die kelder se naam hoog gehou.

En as mens in gedagte hou dat bekende en bekroonde wynmakers soos Bartho Eksteen en Eben Sadie hul tande hier geslyp het, is dit miskien tyd dat die Breedekloof en Mountain Ridge Wines op elke wynliefhebber se emmerskoplysie kom.

Vir meer inligting, of om te weet waar jy van hierdie heerlike wyne in die hande kan kry, kontak Mountain Ridge Wines op 074 125 8096 of by sales@mountainridge.co.za, of besoek www.mountainridge.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>