Momberg Pinotage 2018 – Erfenis in ’n Bottel!

Die Momberg-familie van Middelvlei Wines buite Stellenbosch is nie net sinoniem met erfenis nie, maar hulle het ook een van Suid-Afrika se voorste produsente van pinotage geword. As deel van Suid-Afrika se erfenis en om 100 jaar van wynmaak op Middelvlei te vier, het die familie die beperkte Momberg Pinotage 2018 bekend gestel, ’n wyn wat nie net hulde bring aan hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar nie, maar ook dien as eeufeesviering vir die familie.

Hierdie is die enigste oesjaar van dié gedenkwyn wat die familienaam op die etiket dra en die hoë gehalte en uitnemendheid waarvoor Middelvlei Wines oor die jare heen bekend geword het, reflekteer. En die tydsberekening kon nie beter gewees het nie met dié dat Suid-Afrika vandeesmaand sy ryk erfenis vier.

Die druiwe vir die wyn kom uit wingerde wat noukeurig bestuur en bedryf is om ’n lae opbrengs te lewer met gekonsentreerde vrugtegeure. Die druiwe is vroeg in die oggend gepluk en nuwe eikehoutvate is gebruik in die verouderingsproses, waarvan 70% Amerikaanse eikehout was en die res Franse eikehout. Om die vrugtegeure ten volle te behou, is vate gebruik wat net lig gerooster is. Die wyn was vir 12 maande in die vate voordat dit bottel toe is waar dit nog 18 maande deurgebring het voor bekendstelling.

Tinnie Momberg, die wynmaker, se gesig helder op wanneer hy die wyn beskryf. Hy’s van mening daar’s ’n perfekte harmonie tussen wyn en hout en dat die wyn ’n opwindende mondgevoel van vrugtigheid het. Geure van moerbei, framboos en romerige vanielje word gerugsteun deur ’n fluweelsagte einde. Dis ’n pragtig gebalanseerde wyn met ’n heerlike nasmaak.

Pinotage is ’n baie veelsydige wyn en hierdie een sal beslis byval vind by ’n groot verskeidenheid geregte, insluitende varkrib, sappige peperbiefstuk, ryk sportvis, wildsvleis, lamsdisse en osso bucco. Die Momberg Pinotage 2018 is beslis een vir die ernstige wynliefhebber en –versamelaar, en kos R600 per bottel op die plaas.

Vir meer inligting, besoek www.middelvlei.co.za.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>