Misty Mountains bied lekker plek vir ontspan en uitspan

Die Walker Bay-wynstreek is propvol juwele … en ’n hele paar “geheime”! Een van laasgenoemde is die Stanford-wynroete, “hidden in plain sight”, soos die Ingelse sê.  In my volgehoue pogings om nuwe plekke in die wynlande te ontdek en verken, asook nuwe wyne, het ek my visier ook op hierdie wynroete ingestel.

Misty Mountains se kleurvolle proekamer.

Tydens ’n wegbreeknaweek in Hermanus vat ons toe eendag die pad na Stanford, en skuins duskant die dorp draai ons by die ingang na Misty Mountains in. En dis met die inryslag dat ek opkyk en sien waar die

Die eetplek bied ligte etes in ‘n gerieflike en ontspanne omgewing.

landgoed sy naam vandaan kry. Misty Mountains lê aan die voet van die Kleinrivierberge … en dié oggend is die mis oor die berge besig om stadig soos … wel, soos mis voor die môreson te verdwyn. Letterlik!

By die proelokaal reg langs die restaurant het Robert Davis, hoofbestuurder, ons ingewag. En sommer net daar in die ruim eetplek voor die kaggel het ons aan die gesels geraak. Misty Mountains, het hy vertel, behoort aan ’n sakeman uit die noorde, en dis 46 hektaar groot met sowat 16 hektaar onder wingerd. Sauvignon blanc maak twee-derdes van die aanplantings uit en shiraz die res. Dan’s daar ook ’n klein blokkie semillon en ’n klein blokkie mourvèdre.

‘n Paar van Misty Mountains se wyne pronk in die proekamer.

“Die eerste wingerdstokke is in 2005 aangeplant en die kelder is die volgende jaar gebou,” vertel Robert. “Die kelder kan 150 ton druiwe op ’n slag hanteer.

“Ons wingerde word byna ‘droogland’ bestuur aangesien ons min besproeiing gebruik. Wat die wyne betref, ons voer so ’n bietjie uit na China, maar plaaslik is die wyne tans net in die proelokaal beskikbaar.” ’n Goeie rede en/of verskoning om daar ’n draai te maak! Maar lees verder, daar’s nóg redes en verskonings!

Jors troelie en Robert Davis besig om monsters sommer direk uit die tenks te proe in die kelder.

Onder die Misty Mountains-handelsmerk word tans ’n Sauvignon Blanc, ’n Shiraz, ’n wit versnit van semillon en sauvignon blanc, en ’n rosé van mourvèdre gemaak. Dan’s daar ook ’n MCC van chardonnay en pinot noir waarvan die druiwe aangekoop word.

Die lekker eindig egter nie daar nie. Daar is ook ’n reeks unieke jenewers, handgemaakte bier (oftewel craft beer) en siders.

Maar dis het einde nog niet! Die gemaklike, pretensielose eetplek met sy rustieksteenmure nooi jou uit om ’n pizza of ’n hamburger of iets soortgelyks van die swartbord te bestel en dit rustig en ontspanne met een van die Misty Mountains-wyne te geniet. Ontspan!

En wat dan van die uitspan, vra jy my. Wel, op Misty Mountains kan jy ook dít in oorvloed doen in een van die wynplaas se vier selfsorg-kothuisies. Geleë bo-op ’n koppie bied die kothuisies ’n asemrowende uitsig op die Hermanus-strandmeer bo oor die plaas se wingerde. Twee van die pragtig gerestoureerde kothuisies kan twee mense elk huisves terwyl die ander twee vier kan vat. En twee van hulle het kaggels.

Wanneer jy dus weer dink aan ’n wegbreeknaweek, of selfs ’n langer vakansie, sorg dat Misty Mountains op jou kortlysie is. Eet, drink en bly gaan selde so lekker wees soos hier.

En as die heerlike uitspan en ontspan te veel raak, onthou, Hermanus en Stanford en die Stanford-wynroete is letterlik net om die draai.

Vir meer inligting, skakel 082 973 5943 of besoek www.mistymountains.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>