Middelvlei Momberg Pinotage 2018: ’n Waardige vaandeldraer!

In 1925 het ’n paartjie van Franse herkoms in Suid-Afrika afgehaak, Pinot Noir en Hermitage (ook bekend as Cinsaut). Uit hierdie “match made in heaven” is ’n jonge heer gebore. Hy is Pinotage gedoop.

Pinotage het oor die jare en geslagte heen in ’n uitsonderlike jintelman ontwikkel, ’n man van aansien waarop sy voorouers baie trots kan wees. O ja, daar was ook ’n swart skaap of twee, maar hulle is mettertyd uit die familiestamboom verwyder!

Vier diegene wat nie weet nie, pinotage is in 1925 geskep deur Professor Abraham Izak Perold van die Universiteit van Sellenbosch. Vandag is hierdie rooie ’n Suid-Afrikaanse ikoon en ’n wyn waarop ons almal baie trots kan wees. En hy kom in verskillende style, letterlik iets vir elke smaak. O ja, en ook in wit en rosé!

Maar blaai ’n hele paar hoofstukke vorentoe en stop op Middelvlei aan die buitewyke van Stellenbosch. Hier boer die Momberg-familie al ’n eeu lank en het die landgoed sinoniem geword met hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar. Om hierdie uitsonderlike prestasie te vier, het hulle die Momberg Pinotage 2018 bekend gestel, ’n wyn wat in beperkte volumes gemaak is.

Die druiwe vir hierdie spogwyn kom uit wingerde wat sorgvuldig bestuur is om ’n lae opbrengs met gekonsentreerde geure op te lewer. Tydens die verouderingsproses is 80% nuwe eikehoutvate gebruik, waarvan 70% uit Amerika kom en die res uit Frankryk. Om te verseker dat die vrugtegeure ten volle behoue bly, is die vate net lig gerooster.

Die Momberg Pinotage 2018 is vir 12 maande in die vate gehou voordat dit bottel toe is, en toe vir nog 18 maande in die bottel gehou voordat dit bekend gestel is.

Wyne beloof dikwels baie, maar offer dan minder op. Nie in die geval van hierdie wyn nie. Mens kan verstaan hoekom Tinnie Momberg, die wynmaker, se hele gesig ophelder wanneer hy van die wyn praat. Hy gesels entoesiasties oor die harmonieuse gebruik van hout op die wyn en die vrugtige mondgevoel, en hy’s reg. Die beloofde geure van moerbei, framboos en romerige vanielje is ook beslis geen leë belofte nie. Ek het ook geure van pruime en braambessies opgetel, asook soet tabak en sweempies rokerigheid.

Ek’s net oor een ding spyt, en dit is omdat ek die wyn so vroeg moes proe want ek reken die Momberg Pinotage 2018 gaan net beter en beter word met die regte berging. Ek moes eintlik ’n kis van hom gehad het sodat ek elke jaar ’n bottel kon oopmaak en uitvind hoe dit ontwikkel, maar nou-ja!

Die Momberg Pinotage 2018 kos R600 per bottel, maar moenie net een bottel koop en later spyt wees nie!

Vir meer inligting, besoek gerus www.middelvlei.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>