Meesterlike Tokara XO Potstill Brandy kraai koning in Londen

Suid-Afrika maak die beste brandewyn ter wêreld! Dit word jaar na jaar bewys op internasionale kompetisies. Die jongste produsent wat die Suid-Afrikaanse vlag hoog en trots laat wapper, is Tokara aan die buitewyke van Stellenbosch.

Tokara het internasionale erkenning ontvang vir sy weelderige XO Potstill Brandy en die Brandy Masters 2021 se goue medalje huistoe gebring.

Hierdie jaarlikse kompetisie wat deur The Spirits Business, die vooraanstaande internasionale spiritualieë-handelspublikasie gebaseer in die VK, aangebied word is deel van die Global Spirits Masters Series. Die Brandy Masters beloon die wêreld se beste brandewyne en sowat 150 inskrywings is deur ’n paneel kundiges beoordeel.

Tokara se XO Potstill Brandy huldig die eeue-oue Cognac-tradisie. Die chenin blanc-basiswyn is dubbel gedistilleer en net die sogenaamde “hart” is in Limousin-eikehoutvate vir tussen 12 en 18 jaar verouder. Dit is vleiend en kompleks met groot diepte van karakter. In die mond kom ryk geure van karamel, gedroogde appelkose en kakaobotter voor en die brandewyn eindig op ’n speseryagtige noot met puik lengte.

“Ons gebruik ’n Pruhlo Alambic-potketel wat beskou word as een van die wêreld se beste tegnieke om spiritus van gehalte te produseer,” sê Stuart Botha, die wynmaker. “Ons hou klein hoeveelhede van die beste spiritus afsonderlik en dit stel ons in staat om dan sorgvuldig die komponente uit te kies vir die versnit.”

Tokara verouder die XO in 15% nuwe Limousin-eikehoutvate met die res bestaande uit ouer vate wat in ouderdom wissel tussen een en 30 jaar. Slegs vate wat volwasse, sagte eienskappe ten toon stel, word vir die versnit gebruik.

Hierdie elegante, wêreldklas-brandewyn is op Tokara self verkrygbaar teen R950 per bottel, asook by uitgesoekte handelaars van uitsonderlike wyne. Vir aanlyn-aankope, besoek www.tokara.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>