Te oordeel aan die getal inskrywings wat reeds vir die SA Jongwynskou ontvang is, meer as 2 000, wil dit voorkom of die 2012-oesjaar vele verrassings kan inhou in terme van gehalte. Dit gee ook ‘n aanduiding van die vertroue wat wynmakers en keldermeesters in die land se agt diverse wynstreke steeds in hierdie grootste en oudste kompetisie vir jongwyne stel.
Tans word proe-monsters van die 2 124 deelnemende wyne geskink en “blind” deur ervare wynkenners geproe en bespreek. Die hoogste eer van die kompetisie is die toekenning van die gesogde Generaal Smuts-trofee vir die land se beste jongwyn. Die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste punte in vyf kategorieë, asook ander kampioenskapstrofeë en goue, silwer en brons medaljes is natuurlik ook nie te versmaai nie.
Die waarde van hierdie kompetisie waar wyne in hulle jongeling-stadium beoordeel word, lê juis daarin dat keldermeesters en wynmakers waardevolle terugvoer bekom betreffende hul huidige keuses van wynstyle en produksiemetodes.
Een van die redes waarom hierdie kompetisie vir soveel dekades getrou deur wynmakers ondersteun word, is dat inskrywings beoordeel word deur gekwalifiseerde wynmakers en –kundiges wat oor spesialiskennis van die betrokke wynstyle en kultivars beskik. ‘n Agtste leerlingbeoordelaar sluit soos voorheen by die panele van sewe beoordelaars aan om by dié ervare proeërs kers op te steek.
Die gewilde opleidingsgeleentheid vir opkomende assistent-wynmakers en kelder- en wingerdwerkers word ook weer vanjaar aangebied.
Vanjaar se voortreflikste jongwyne word op Donderdag, 16 Augustus, op ‘n spoggeleentheid by die Sportsentrum van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch bekend gemaak. Dié toekenningsgeleentheid word aangebied onder die vaandel van Agri-Expo wat sowat 180 jaar gelede die land se eerste wynskou geïnisieer het.
Wyne gaan in sewentien verskillende kategorieë meeding en staan ook die kans om as SA Kampioen in een van hierdie groeperings aangewys te word. Die kategorieë sluit in Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivar, Droë Wit Versnit, Soeterige Witwyn, Edellaatoes, Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivar, Droë Rooi Versnit, Port, Dessertwyn en Muskadel.
Sauvignon blanc loop vanjaar voor in terme van die aantal inskrywings met 121, terwyl shiraz (gehout) volg met 111 inskrywings en rooi versnitwyne (gehout) met 109 inskrywings.
Vir meer inligting, kontak Elsabe Ferreira by 021 863 1599, per epos by admin@veritas.co.za of besoek www.youngwineshow.co.za. Bly op die hoogte van die jongste nuus op Facebook by South African Young Wine Show of Twitter #sayoungwine.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast