Malbec: Frankryk versus Argentinië versus Suid-Afrika

Dis ’n Nuwe Wêreld-wyn, maar met ’n Ou Wêreld-oorsprong. Malbec het ontstaan uit die “huwelik” tussen die antieke kultivars  prunelard noire en magdalaine noire des charentes.

Dis maklik om te vergeet dat hierdie Bordeaux-kultivar in Frankryk ontstaan het omdat meer as 75% van die wêreld se malbec vandag in Argentinië gevind word. Om die waarheid te sê, Mendoza in Argentinië word beskou as die “malbec-hoofstad van die wêreld”.

In Frankryk is malbec ’n wyn wat in ’n ligter styl gemaak word met meer geure van rooi vrugte en blomme en kruie.

In Argentinië en Suid-Afrika is dit ’n perd van ’n ander kleur en word volronder wyne gemaak. In Argentinië bied die wyne meer swartvrugtegeure, sagter suur en ’n gladde sjokolade-nasmaak, terwyl malbec in Suid-Afrika  weer meer speseryagtig is met geure van pruime, swart bessies, jenewerbessies en kersies, met sweempies bitter sjokolade.

’n Interessante proe-ervaring – vir die regte, egte wynliefhebber! – is om ’n top malbec uit al drie lande te vat en hulle met mekaar te vergelyk. Hier is wat ek geproe het:

Clos Siguier Cahors AOP 2015 (Frankryk) – 95% malbec, 5% tannat

Hierdie wyn het ’n medium pers kleur en bied aromas van gedroogde blare, soet kersies, vuurblom, vars framboos en ou leer. In die mond stel dit ’n lewendige suur vry met vrank geure van pruime en kersies wat lei tot sweempies gedroogde blare en vuurblom.

Domaine Bousquet “Reserve” Malbec 2016  (Argentinië) – 85% malbec, 5% merlot, 5% syrah, 5% cabernet sauvignon

’n Diep perskleur kenmerk hierdie wyn. In die neus word aromas van framboos, sjokolade, Aleppo-peper, soet kersies en bruid brood (moontlik as gevolg van die gis wat gebruik is) vrygestel, terwyl die volronder mondgevoel met fermer tanniene deur geure van kersies en sjokolade gekenmerk word.

Bellevue Malbec 2015 (Suid-Afrika) – 100% malbec

Hierdie wyn het ook ’n diep pers kleur en bied aromas van bessies, kersies, pruime, roosmaryn, kruisement en fynbos in die neus. In die mond word ryp kersies, fynbos, ryp donker vrugte soos pruime en ’n aardsheid geproe.

Persoonlik verkies ek die ligter styl, maar wanneer die regte dis voor my neergesit word, sal enigeen van die ander twee baie welkom wees.

As jy nog nie malbec probeer het nie, dis nooit te laat nie … en jy sal beslis nie spyt wees nie.

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>