Maklike, eenvoudige keuses uit die kelders van De Krans, Middelvlei & Diemersfontein!

Suid-Afrika se wynlandskap is seker een van die interessantste – en uiteenlopendste – ter wêreld! Daar is letterlik ’n wyn vir elke smaak, van drinkwyne tot dinkwyne. Eersgenoemde wil net geniet word, terwyl laasgenoemde so bietjie tyd vra vir bepeinsing. ’n Denim, T-hemp en tekkies versus ’n driestuk-snyerspak en Italiaanse leerskoene.

Hier’s ’n paar wyne wat beslis vra om net geniet te word, en hoekom dan nie? 

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon 2019 is werklik die beste van albei wêrelde in die sin dat dit ’n volronde wyn is in terme van geurprofiel, tog lig en maklik drinkbaar wanneer dit kom by die styl. Die wyn is ‘n heerlike pasmaat vir ’n pizza, pasta-dis of ‘n lekker, doodgewone braai.

Die wyn het ‘n tipiese karakter van cassis, ryp bessies, met vars pruimedant en seder-spesery in die neus. Wat hierdie Cabernet Sauvignon so uniek maak, is die gebruik van ‘n mandjiepers wat ‘n baie sagte pers-aksie tot gevolg het en lei tot ‘n sagter tannien-struktuur en vrugtegeure van pruime, moerbeie en donker kersies.

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon is beskikbaar teen slegs sowat R79 per bottel in geselekteerde winkels landswyd. Die wyn is ook beskikbaar aanlyn via www.dekrans.co.za, waar jy ook meer inligting omtrent hierdie wyn, asook die volledige De Krans-wynreeks sal vind.

Met die winter hier is dit dalk tyd om te verseker dat die koue, nat weer nie ook “droogte” bring nie! Om te keer dat die koue weer nie te veel byt nie, het dit tyd geword om te verseker dat daar genoeg rooi en wit “skietgoed” tuis is. Middelvlei Wines aan die buitewyke van Stellenbosch het net die regte “medisyne” teen die koue weer, in hul Free-Run Pinotage 2019 en Unoaked Chardonnay 2020.

Die Middelvlei Free-Run Pinotage 2019 (regs) word uitsluitlik van vryloopsap gemaak. Dis die sap wat natuurlik afloop van die trosse varsgeplukte druiwe wat by die kelder afgelewer word. Die gevolg is ’n wyn van uitstekende gehalte met sagter tanniene. Middelvlei se wynmaker, Tinnie Momberg, beskryf hierdie wyn as een met komplekse geure van framboos, moerbeie en elegante eike-speserye. Die sagte tanniene word puik gebalanseer deur die vrugte se “gewig” en die wyn bied romerige vanieljegeure wat in die mond talm. Die Free-Run Pinotage 2018 is by die kelder beskikbaar teen R150 per bottel, asook landwyd by uitgesoekte handelaars.

Wanneer dit by kos kom, is hierdie wyn die ideale maat vir ’n tradisionele Suid-Afrikaanse vleisbraai, of selfs beter nog, met Middelvlei se bekende en gewilde “Boerebraai”. Die Middelvlei Boerebraai is ’n unieke buitelug-vleisbraai waar die plaaslike “braaimeesters” skaaptjops, boerewors en hoendersosaties perfek braai terwyl die gaste rustig ontspan met ’n glasie of meer Pinotage.

Tinnie beskou die landgoed se Unoaked Chardonnay 2020 as een van sy gunstelinge. Die 2020-oesjaarwyn is uitsluitlik van chardonnay-druiwe gemaak, puik gebalanseer en spog met sweempies mineraliteit en ’n goed geïntegreerde suur. Soos die wyn homself bekend stel, word ’n oorvloed tipiese sitrus- en perskegeure vrygestel, met titsels speserye. Die wyn se verfrissende mondgevoel hou die belofte van ’n talmende nasmaak in, en dit lei tot ’n fris, lewendige wyn met ’n aanloklike varsheid.

Die Middelvlei Unoaked Chardonnay 2020 (links) kan nou reeds geniet word, op sy eie, of saam met ligte en delikate geregte soos lig gekookte skulpvis, gestoomde of oondgeroosterde vis, vispatee, vis, hoender- of groente-terrines en pasta of risotto met seisoenale groente. Dit is by die proelokaal beskikbaar teen R110 per bottel of landwyd by uitgesoekte handelaars.

Vir meer inligting oor Middelvlei se wyne, asook die landgoed se ander aanbiedings, besoek www.middelvlei.co.za.

Diemersfontein buite Wellington vier vanjaar sy “mondigwording” met die bekendstelling van die TWENTYONE 2019, ’n versnit van 50% shiraz, 45% “coffee” pinotage en 5% merlot. Die wyn vier 21 jaar van wynmaak op dié bekende en gewilde landgoed en is net in beperkte volumes beskikbaar.

Die Diemersfontein TWENTYONE 2019 (regs) is propvol geure van koffie en sjokolade met subtiele sweempies braambessie en pruim. Hoewel dit puik werk met ryk lamsvleisgeregte en ligte Maleise kerries, is dit ook die ideale pasmaat vir ’n tipiese Suid-Afrikaanse braai.

Hierdie rooi versnit kos slegs R60 per bottel en is net by die proelokaal of aanlyn beskikbaar by www.diemersfontein.co.za. En asof dit nie genoeg goeie nuus vir een dag is nie, stel Diemersfontein ook ’n spesiale aanbod op sy Diemersfonein Pinotage tot Augustus bekend, naamlik R99 per bottel.

Raait, moenie gras onder jou voete laat groei nie!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>