Maak godello die volgende ‘stop’ op jou wynreis

Tot ’n paar jaar gelede het ek nog nooit van godello gehoor nie, maar hierdie wit Spaanse kultivar het reeds sy pad na die VK gevind waar dit baie gewild is. Wat in godello se guns tel, is dat dit maklik is om uit te spreek, die wyn smaak lekker, en laat ons nou maar eerlik wees, dis lekker om vir ons vriende van ’n “nuwe” wyn te kan vertel!

Godello kom uit die noordweste van Spanje waar die wingerde van Bierzo, Valdeorras, Ribeira Sacra en Monterrei hierdie “nuweling” ter harte geneem het. Ek het onlangs godello-wyne van Bierzo geproe waar die kultivar floreer tussen die berge, kastele en dennewoude van hierdie natuurskone wynstreek.

Wyne gemaak van godello.

Daardie droë, lewendige, verfrissende wyne met hul geure van sitrus, appelkoos en perske het my dag gemaak.

Bierzo is ’n klein, afgeleë streek in die noordwestelike hoek van die Castilla y León-streek naby die grens van Galicië (noord van Portugal) en is een van Spanje se opkomende sterre. Voeg godello by hierdie prentjie … en dinge lyk goed!

As jy ’n paar dae in hierdie wingerde wil deurbring, die naaste lughawe is Vigo aan die kus, maar as jy van stap hou, die markdorp Cacabelos is ’n bekende rusplek langs die wêreldbekende pelgrimstog, die Camino de Santiago. Wanneer die pelgrims in Bierzo aankom met hul voete vol blase van al die stap, weet hulle die einde is in sig aangesien Santiago de Compostella nie veel verder is nie.

Bierzo het sy Denominacion de Origin (D.O.) in 1989 ontvang. Dit behels twee gebiede, Bierzo Alto (hoë Bierzo) waar terrasplotte aan die styl hellings vasklou en Bierzo Bajo (lae Bierzo), die plein daaronder. Die wingerde is tussen 450 en 1 000 meter bo seevlak geleë, die grondsoorte wissel van spoelgrond op die plein tot grond met leiklip hoër op. Die streek se koel klimaat is die gevolg van die invloed van die Atlantiese Oseaan aan die weste. Hoewel die somertemperatuur in die middel tot hoë twintigs op die Celsius-termometer kan wees, kan die wintertemperatuur so laag as 4 grade daal, en dit maak dit natuurlik aantreklikvir pelgrims – die slimmes! – om die pelgrimstog in die lenteson aan te durf.

Bierzo is ook stadig besig om ’n reputasie vir sy rooiwyne van die onbekende mencia-kultivar op te bou. Nes godello is hierdie rooie die moeite werd om op te spoor. Vir baie jare is daar gespekuleer dat mencia verwant aan cabernet franc, die klassieke rooi kultivar van die Loire-vallei, was, maar onlangse DNA-toetse toon dat sy naaste skakel Portugal se jaen-kultivar is. Toemaar, ek het ook nog nooit van jaen gehoor nie!

Bierzo se rooies van toeka se dae was eenvoudige plaasjapiewyne, maar dinge het verander toe ’n nuwe geslag wynmakers mencia se potensiaal om puik wyne met geure van sappige swart vrugte en pruime te maak, raak gesien het. Jy sal Crianza op die etikette van bierzo-rooies sien, wat beteken dat die wyn ingevolge wetgewing minstens maande in houtvate en 18 maande in die bottel verouder het voordat hulle bekend gestel is. Reserva beteken dit het minstens 2 maande in vate en 24 maande in die bottel deurgebring voordat dit ’n glas tref.

Wees dus op die uitkyk vir ’n bierzo-rooiwyn, jy sal nie spyt wees nie, maar moenie van die opkomende wit ster van hierdie opkomende wynstreek vergeet nie! Godello wag om jou te betower!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>