Longridge blink uit tussen wêreld se beste organiese wyne

Die Longridge-wynlandgoed tussen Stellenbosch en Somerset-Wes het onlangs drie goue medaljes ontvang by die Grand International Organic Wine Awards.

Dié Europese kompetisie, een van die belangrikste vir organies-gesertifiseerde wyne in die wêreld, het vanjaar vir die tiende keer onder die leiding van sensoriese deskundiges en die bekende PAR-stelselontwikkelaar, Martin Darting, plaasgevind. Volgens die organiseerders is meer as 1 000 organiese wyne vanjaar vir die kompetisie ingeskryf.

Met sy drie goue medaljes het Longridge sy posisie as ’n leier in die produksie van organiese en biodinamise wyne in Suid-Afrika bevestig. Die drie medaljes is toegeken aan:

  • Longridge Organic Chenin Blanc 2016
  • Longridge Organic Chardonnay 2017
  • Jasper Raats Single Vineyard Wines Driefontein Organic Syrah 2016

Die druiwe vir die Longridge Organic Chenin Blanc en Chardonnay is afkomstig uit wingerde op die landgoed wat hoog teen die hange van die Helderbergreeks groei. Die Driefontein Syrah vorm deel van Jasper Raats se enkelwingerdreeks en word gemaak van druiwe uit ’n wingerd van 2 hektaar in die Helderberg-streek.

Die wingerde van Longridge word bedryf met organiese en biodinamiese praktyke in gedagte. Dit vereis dat geen gifstowwe of chemiese spuitmiddels in die wingerd gebruik word nie, en geen swael of verfyningsagente in die kelder nie. Daar word ook gebruik gemaak van natuurlike kompos en wingerdpraktyke word volgens ’n biodinamise rooster toegepas.

“Sedert ons in 2011 ons manier van wingerdbou en wynmaak verander het na organiese en biodinamiese praktyke was ons tevrede om deurlopend die gehalte van ons wyne teen konvensionele wyne te meet,” sê Jasper Raats (foto bo), keldermeester en bestuurder. “Ons het ons wingerdboubestuur verander omdat ons beter en gesonder wyne wou maak, maar het eers onlangs die stap geneem om die gehalte van die wyne te meet teen van die wêreld se beste organies-gesertifiseerde wyne. Hierdie toekennings is vir ons ’n goeie maatstaf om te sien waar ons tans is wat gehalte betref, asook hoe Suid-Afrikaanse wyne met dié van die wêreld vergelyk.”

Vir meer inligting oor Longridge, besoek www.longridge.co.za of kontak Jasper Raats by jasper@longridge.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>