Lomond se wittes het murg in hul pype

Date posted:
August 24, 2011

Suid-Afrika se witwyne is allereers bekend vir hul jeugdige uitbundigheid en hul varsheid en oorvloed aan geure, en nié vir hul langslewendheid nie. En tog kom daar deesdae toenemend witwyne op die mark wat, hoewel hulle reeds volkome drinkbaar is, eers met verloop van tyd hul ware kleure wys.

Onder hulle is die enkelwingerd-witwyne van Lomond, genoem na die wynplaas in die nuwe wynarea wat van Gansbaai verby Elim tot by Agulhas strek. Die wynmaker, Kobus Gerber, sê hy twyfel nie daaraan dat hierdie wyne vir vyf tot agt jaar op hul toppunt sal bly nie.

? Mens is gewoond daaraan dat sulke verwagtinge van topgehalte-rooiwyne gekoester word, maar nie van wittes nie. Maar Gerber, wat meer as twintig jaar se wynmaak in Suid-Afrika en Frankryk agter die rug het, weet waarvan hy praat. Hy was per slot van sake betrokke by die ontwikkeling van Lomond in ? wynplaas lank voor die eerste druiwe geoes is.

Al wat jy hoef te doen, is om die wyn te proe, sê hy. “Die 2007- Lomond Pincushion Sauvignon Blanc, ? enkelwingerdwyn, is eers nou, ná vier jaar, na aan sy toppunt, met ? wonderlike rykdom aan geure wat na vore gekom het.

“Ek het altyd gereken dis ? uitsonderlike wyn. In 2008 by die Decanter World Wine Awards is dit dan ook aangewys as die beste sauvignon blanc van waar ook al ter wêreld wat vir minder as £10 verkoop. En laat ons onthou, die Decanter-kompetisie is een van die voorste ter wêreld wat jaarliks by die 10 000 inskrywings lok.”

Om die Lomond-wyne te maak, stel werklik nie hoë eise aan ? wynmaker nie, sê hy. “Al wat ek moet doen, is om die hoogs gekonsentreerde, natuurlike geure van die druiwe vas te vang. Die druiwe is van buitengewone gehalte en weerspieël die uitsonderlike terroir van hierdie plaas in die vallei van die Uylenkraalsrivier skaars 8 km van die see. Die intense geure van die druiwe verleen soveel diepte aan die wyne dat daar by my geen twyfel is dat hulle hul vrug en varsheid vir tot agt jaar sal behou nie.”

Wayne Gabb, hoofbestuurder en wingerdboukundige van Lomond, skryf die langslewendheid van die wyne toe aan die druiwe se langsame rypwording aan die stok in die koel klimaat van die area asook aan die wye verskeidenheid van grondtipes op die plaas. 

“Weens die lang tyd wat die trosse hang, is daar ? natuurlike opbou van hoë suur gekombineer met ? lae pH. Die gevolg is dat die inherente eienskappe van die wyn eers na 18 maande behoorlik na vore tree.”  

Die 2007- Pincushion is egter geen uitsondering nie. Sy pasmaat, die Lomond Sugarbush van 2007, ook ? enkelwingerd-sauvignon blanc, het in 2009 by die jaarlikse Ou Mutualtrofee-wynskou die trofee vir die beste sauvignon blanc gewen en toe in 2011 dié prestasie herhaal, hierdie keer in die museumklas.

Die 2007- Sugarbush is nie langer beskikbaar nie, maar van die 2007- Pincushion is wel nog ? paar bottels beskikbaar vir daardie versamelaars wat prys stel op die besondere eienskappe wat net met die tyd kom. Dit verkoop teen sowat R105 per bottel. 

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram