Lomond se Pincushion ’n internasionale gunsteling

Date posted:
June 1, 2010

 

Lomond se 2009- Pincushion Sauvignon Blanc was een van Suid-Afrika se top tien wyne op die onlangse International Wine Challenge (IWC) in London en het ‘n goue medalje los geslaan. Dit volg op ‘n vyfstergradering in die 2010- Platter’s South African Wine Guide.

 

Hierdie enkelwingerdwyn, vernoem na die speldekussing-protea wat op dié Gansbaaise landgoed gevind word, vertoon ryp, tropiese vrugtegeure, getemper deur mineraliteit en ‘n lewendige varsheid, aldus die wingerdboukundige, Wayne Gabb.

 

“In hierdie wingerdblok is daar ‘n ontsaglike diversiteit wat aansienlike diepte en kompleksiteit aan die wyn verleen. Die grond wissel van diep en sanderig tot relatief vlak en gestruktureerd, terwyl die hoogtes bo seevlak wissel van 16 tot 264 meter.”

 

Hy voeg by dat die vlagie ryp vye en soet tropiese vrugte in die neus tot in die mond strek en sodoende ‘n pragtig geïntegreerde en goed gebalanseerde wyn skep.

 

Die druiwe is met die hand gepluk en onmiddellik verkoel om die vrugtegeure te behou voordat dit fyn gedruk is en gegis het.

 

Lomond, ‘n lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) vir sy rehabilitasie en bewaring van die inheemse habitat, is in die vallei van die Uilenkraalrivier geleë sowat 8 km van die see af soos die kraai vlieg en op ‘n baie suidelike breedteligging -34º 34º suid.

 

Die Lomond Pincushion Sauvignon Blanc 2009 is by alle vooraanstaande drankwinkels te koop teen sowat R100 per 750ml-bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram