Lomond se lewenskrag lê in sy grond

Date posted:
September 4, 2009

Wayne Gabb, die wingerdboukundige van Lomond, kan nie besluit of hy meer opgewonde is oor die ontdekking op die landgoed van 'n skaars en bedreigde plantspesie, die Erica axilliflora, of Lomond se eerste vyfstertoekenning in die Platter’s South African Wine Guide nie. Dis die landgoed se Pincushion Sauvignon Blanc van 2009 wat hierdie eer te beurt geval het.

 

“Eintlik kan albei gedeeltelik toegeskryf word aan die manier wat ons hier op die plaas van 800 hektaar naby Agulhas boer. Ons het 200 hektaar hiervan opsy gesit vir bewaring en ons begin nou nuwe voorbeelde van inheemse flora op Lomond raakloop, terwyl dié wat reeds goed gevestig is, welig groei. Die Erica axilliflora, wat ons hierlangs klokkiesheide noem, is byna 'n dekade laas langs hierdie deel van die kus opgemerk en dit is dus ‘n belangrike ontdekking vir enigiemand wat belang stel in die rehabilitasie van die inheemse habitat.”

 

Lomond, geleë 8 km van die see, is lid van die Biodiversiteits- en Wyninisiatief, asook van die Walker Bay-bewaringsarea.

 

“In die wingerde inokuleer ons met mikro-organismes om die organiese materie te vermeerder; ons plant grondbedekking tussen die wingerdrye en skep dan 'n omgewing wat die plante in staat stel om self weerstand te bied teen siektes,” verduidelik hy. “Gekoppel aan 'n program wat insekte in staat stel om op andersins vernielende peste te teer, is dit ‘n benadering wat gesonde druiwe van hoë gehalte tot gevolg het.”

 

Die druiwe vir die enkelwingerd- Pincushion is met die hand gepluk toe die smaak reg was en onmiddellik verkoel om die vrugtegeure te behou voordat dit fyn gedruk is en gegis het, sê hy. Dit is die protokol vir al die plaas se witwyne.

 

Dit blyk ‘n resep vir sukses te wees as mens kyk na die aanhoudende lofbetuiginge wat Lomond Wines ontvang. Die enkelwingerd- Pincushion Sauvignon Blanc van 2009 was een van vyf sauvignon blancs wat ‘n vyfstertoekenning in die 2010-uitgawe van die Platter-gids, wat later vanjaar verskyn, ontvang het.

 

Die 2007- Pincushion het op verlede jaar se Decanter World Wine Awards die trofee gewen vir die beste wyn onder £10, asook ‘n goue medalje op vanjaar se Old Mutual Trophy-wynskou.

 

“Dis opmerklik dat ons sauvignon blancs neig om eers na 18 maande of so tot hul volle reg te kom. Hulle word gemaak om etlike jare te hou en met die tyd meer van hul kompleksiteit te ontbloot,” sê Gabb. “Dat die potensiaal van die 2009-oesjaar reeds so duidelik na vore kom, is vir ons baie bemoedigend. Die klimaat het beslis goed saamgespeel met die koel temperature wat eweredige rypwording moontlik gemaak het. Die druiwe was van uitsonderlike gehalte, met hoë natuurlike suur.”

 

Die wynmaker, Kobus Gerber, beskryf die wyn as elegant en tipies van 'n koelklimaat-sauvignon blanc. “Die vol aromas van laventel, appelliefie, ryp vy en soet, tropiese vrugte eindig in 'n mondgevoel van fris en flintagtige mineraliteit en ‘n talmende nasmaak.”

 

Volgens hom het die nabyheid van die see, die suidelike rigting van die wingerdblok wat deur sowel suidoostelike as suidwestelike winde verkoel word, die unieke grondprofiel en die ouderdom van die wingerdstokke wat aan die begin van die dekade aangeplant is, alles bygedra het tot die wyn se veelsydige karakter.

 

Gabb en Gerber glo nie enige van Lomond se enkelwingerdwyne kan as eendimensioneel beskou word nie. “Ons boer op 'n manier wat die maksimum-uitdrukking gee aan die uiteenlopende grondtipes en wisselende hoogtes op die plaas. Dit word gereflekteer in die gehalte van die wyne, waarvan die Pincushion ‘n baie goeie voorbeeld is,” aldus Gabb.

 

Die Pincushion-wingerdblok, waarin twee sauvignon blanc-klone geplant is, wissel in hoogte bo seevlak van 16 m tot 264 m, met grond wat wissel van diep en sanderig tot betreklik vlak en gestruktureerd.

 

Lomond het vroeër vanjaar op die Old Mutual Trophy-wynskou met sy Sugarbush Sauvignon Blanc van 2007 die trofee vir die beste ongehoute sauvignon blanc gewen. Die landgoed het ook op die Londense International Wine Challenge 'n goue medalje gewen vir sy heel eerste Snowbush, gemaak in 2007, 'n versnit van die Sugarbush, Pincushion, nouvelle en semillon.

 

Die Pincushion Sauvignon Blanc van 2009, wat nou by spesialiswinkels beskikbaar is, kos sowat R103 per 750 ml-bottel, en sowel Gabb as Gerber is vol vertroue dat dit selfs meer van sy bekroonde persoonlikheid sal ontbloot soos dit verder verouder.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram