Lomond se Conebush Syrah blink uit in Frankryk

Date posted:
July 5, 2010

Die 2007-oesjaar van Lomond se enkelwingerd- Conebush Syrah het ’n goue medalje ingepalm op die 2010- Syrah du Monde en in die proses onder die top 10% van die wyne ge-eindig op hierdie jaarlikse Franse kompetisie, wat nou in sy vierde jaar is.

 

Meer as 27 lande het altesaam 387 wyne vir hierdie kompetisie ingeskryf wat in Ampuis gehou is en beskou word as die beslissende internasionale platform vir die beoordeling van hierdie kultivar.

 

Lomond se wingerdboukundige, Wayne Gabb, sê die diversiteit in die grondsoorte het bygedra tot die kompleksiteit van die wyn wat in die Rhône-styl van handgeplukte en –uitgesoekte druiwe gemaak is. “Lomond se geologiese formasies is uniek en die meeste van die grond is van sandsteen- en skalie-oorsprong met granietgedeeltes wat onvrugbare, gruisagtige grond tot gevolg het.”

 

Lomond, wat slegs 8 km van die see af is in die vallei van die Uilenkraalrivier, is baie suid geleë, -34º 34´ suid, en is een van slegs ’n handvol wynplase met ’n Kaap Agulhas-streek van oorsprong.

 

Die wyn, elegant, grasieus en met sagte tanniene, kom nou na drie jaar tot sy reg, sê Kobus Gerber, die wynmaker, en toon geure van wit peper en rooi vrugte in die neus en mond. “Dit is ’n uitmuntende koswyn met vrugte en hout wat in puik harmonie is en sal disse soos pluimvee, geroosterde vleis en ander vleisdisse eerder komplementeer as oorskadu.”

 

Gerber meen die wyn sal vir minstens nog agt tot tien jaar hou aangesien dit 18 maande in nuwe hout deurgebring het en gestruktureer is om goed te verouder.

 

Die naam Conebush (Leucadendron) verwys na ’n soort protea wat welig op hierdie Gansbaaise plaas groei en Lomond se verbintenis tot die bewaring van die unieke biodiversiteit van die area beklemtoon. Die landgoed, wat lid is van die Biodiversiteit- en Wyn-inisiatief (BWI), vernoem sommige van sy ander enkelwingerdwyne ook na flora op die plaas, insluitende Sugarbush, Pincushion en Snowbush. Daar is meer as 660 inheemse plantspesies geïdentifiseer op die plaas.

 

Die Lomond Conebush Syrah 2007 is by alle vooraanstaande drankwinkels te koop vir sowat R230 per 750ml-bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram