“Wine, one sip of this will bathe the drooping spirits in delight beyond the bliss of dreams. Be wise and taste.”
Ek het onwillekeuring aan John Milton se gevleuelde woorde gedink toe ek en die aktrise, skrywer, regisseur, kunsjoernalis en radio- en TV-aanbieder Lizz Meiring ‘n jaar of drie gelede daar by Oak Valley Wines duskant Elgin langs die N2 ingery het.
Ek het per slot van sake al voorheen van die wyne van Pieter Visser, wingerdboukundige/wynmaker, geproe. Een keer selfs op ‘n luukse-boot waar my seevoete my lelik in die steek gelaat en soesjie en kreef my in die proses verby gegaan het! En enigiemand wat my ken, weet hoe lief ek vir soesjie en kreef is! Maar dis ‘n ander storie. Vir ‘n ander dag.
Kyk, ek was al op baie wynplase en elkeen het op sy eie, unieke manier ‘n kerfie teen my muur gemaak, maar ‘n wynplaas wat ook ‘n vrugteplaas, ‘n blommeplaas, ‘n beesplaas én ‘n varkplaas is, het ek nog nie gesien nie. Wel, dis Oak Valley Wines, al 1 800 hektaar van hom. En dan’s daar ook nog ‘n bergfietsroete van sowat 24 km wat deel van die jaarlikse Cape Epic uitmaak.
En asof dit nie reeds te veel is nie, is die baas van die plaas, Anthony Rawbone-Viljoen, en sy mense ook voor in die koor wanneer dit by bewaring kom.
Maar voordat ek vergeet, ek het gehoop om die dag ‘n stel windgatwiele te hê om Lizz mee Oak Valley toe te vat, maar toe word Suzuki se jongste djiepie, die Jimny, by my gelos. My skeptimisme het gou in verrassing en later selfs in ‘n bietjie verwondering en respek verander deur hierdie buksie se talente en vermoëns, maar lees gerus self by http://planeetwyn.co.za/node/3341.
Oak Valley het sowat 50 hektaar onder wingerd en hul eerste wyn, ‘n sauvignon blanc, het in 2003 die lig gesien en sommer onmiddellik die ringkoppe laat regop sit. Vandag word vyf wyne onder die Oak Valley-vaandel geproduseer, van ‘n sauvignon blanc en ‘n chardonnay tot ‘n pinot noir, en tussenin is daar twee pragtige versnitte, ‘n witte en ‘n rooi Bordeaux.
Maar terug na my glansgas vir die dag. Lizz sê haar wynkennis is nie juis waffers nie en sy weet wyn is ‘n baie persoonlike ding, maar dat sy darem ‘n droë witte (verkieslik ‘n sauvignon blanc), ‘n droë rosé en ‘n baie droë vonkelwyn baie geniet. “Ek’s nie juis ‘n rooiwyndrinker nie,” voeg sy dan by.
En toe trek Piet en Anthony los en ons beginne te proe, sommer daar in die intieme proekamer. En ek hou onse Lizz met valkoë dop.
Byskrif: Lekker kos, lekker wyn en lekker geselskap is darem maar van die lekkerste wat die lewe kan bied. En hierdie feesmaal op Oak Valley het aan al drie vereistes voldoen.
“Joe! Topgehalte! En so maklik om te geniet,” sê sy van die sauvignon blanc. “Net so lekker,” beskryf sy die wit versnit. En “regtig heerlik” is haar kommentaar op die chardonnay.
En toe volg die eerste rooie van die dag, Oak Valley se Bordeaux-versnit. “Ek’s nie juis ‘n rooiwyndrinker nie, maar hierdie is ‘n wonderlike ervaring,” vertel sy met ‘n glinster in haar oë. En toe die coup de grâce, die pinot noir. “Dit is ‘n ongelooflik ervaring hierdie,” en sy gee hom ook sommer volpunte, nes die sauvignon blanc.
Die wit versnit van sauvignon blanc en semillon, The OV 2007, het vir my net-net voor die sauvignon blanc koning gekraai onder die wittes, terwyl daai pinot noir loshande eerste by die wenstreep verby is, en in die proses het hy sommer die hele spulletjie kaf gedraf op my telkaart, wit sowel as rooi.
Nou-ja, nadat ons die allemintige kwekery en blompakhuis, waar die personeel oor hulle voete geval het om vir Lizz te kom groet, besoek het, is ons die wingerde in tot redelik hoog teen die helling van die Groenlandberg vanwaar ons ‘n asemrowende en panoramiese uitsig oor die hele Elgin-vallei gehad het.
Na ‘n heerlike middagete onder die bome danksy Madeleine, Anthony se wederhelf, en natuurlik met gepaste voggies uit die Oak Valley-kelder het ons halfhartig afskeid geneem. Lizz moes nog verder die Overberg in vir optredes en ek het ‘n vroulief en vierpootseun wat by die huis gewag het.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast