Lekker wiele maak besoeke aan wynplase ekstra plesierig

Date posted:
December 2, 2009

Ek het die afgelope byna twee jaar die voorreg gehad om ‘n verskeidenheid voertuie te “toets” op besoeke aan areas binne die Kaap se natuurskone wynlande. As oud-motorjoernalis wat bietjie tred verloor het met al die voertuie wat vandag vir Suid-Afrikaners beskikbaar is, was dit ‘n aangename verrassing om te sien hoe groot die keuse vandag is en hoe goed vandag se voertuie is.

 

In my dae as motorjoernalis was daar maar net sewe motorvervaardigers teenwoordig in Suid-Afrika. Hulle was BMW, Ford, GM, Mercedes-Benz, Nissan, Toyota en Volkswagen. Enigiets anders moes spesiaal ingevoer word. Wel, vandag is dit ‘n heel ander storie.

 

My eerste besoek aan ‘n wynarea was met Nissan se sprankelnuwe X-Trail. Dit was die topmodel en na slegs ‘n paar uur daar tussen die wynplase langs die Annandale-pad buite Stellenbosch het ek verstaan hoekom die X-Trail in daardie stadium die gewildste SNV (sportnutsvoertuig) in Suid-Afrika was (en miskien steeds is). Sedertdien het ek ander modelle in die reeks bestuur en het ek ‘n groot aanhanger geword.

 

Ander modelle in die Nissan-stal wat my metaalmetgesel op besoeke aan die wynlande was, het die baie gewilde Quashqai ingesluit (veral die dCi het my beïndruk), asook die Murano, ‘n baie bekwame en na my mening een van die sexieste SNV’e op die mark, en die 350Z. Die Quashqai dCi het my na die Weskus-wynroete gevat en ek het terug gekeer met die wete dat ‘n nuwe naam op my kortlys van SNV’e geland het. Ongelukkig het dieselfde met die Murano gebeur!

 

Onder die Renaults wat ek onder hande gehad het, het die pikswart Megane F1 en Kolios uitgestaan. Die F1 het die rit na en van die Riebeek-vallei in die Swartland besonder vinnig laat verbyflits (!), terwyl die Kolios my op ‘n besoek van twee dae aan die Worcester-wynroete sy “minder mooi” voorkoms (‘n persoonlike siening) laat vergeet het met sy wakker werkverrigting en gerieflike rit.

 

Die verrassing uit die Renault-stal was die klein Sandero waarmee ek en vroulief na die Breederiviervallei is. Dis nie die soort motor wat ek ooit vir myself sal koop nie – ek’s te lief vir brute krag en spoed – maar ek verstaan hoekom daar soveel van hulle rondloop. Hy’s stewig aanmekaar gesit en bied voldoende gerief en werkverrigting.

 

Die gewildheid van die klein Clio spreek vanself. Ek het die tweedeurweergawe op ‘n besoek aan die Robertson-wynvallei as my metaalmetgesel gehad en hom terdeë geniet. As ek in die mark vir ‘n klein motortjie was ...

 

 

Links: Subaru se vurige Forester saam met Georgio Dalla Cia en Tossie Lochner op Bilton.

 

 

 

Subaru het vir my ‘n turbo-aangejaagde Forester geleen wat my vandag nog aan die dink het. Soos reeds gesê, ek’s mos op soek na ‘n kleinerige SNV ... en die blerrie Forester bly aanmekaar in my kop opduik! Die groot probleem met daai vuurwa is, ek gaan dikwels briewe aan die verkeersdepartmente moet skryf en vra vir ‘n vermindering van boetes want as daai turbo-aanjaer begin blaas, sien die meeste karre net jou vinnig verdwynende agterliggies.

 

Ek en die Forester het by Bilton buite Stellenbosch gaan kuier waar ek ‘n wynrubriek gedoen het. Voor hom het ek die Tribeca vir ‘n paar dae gehad vir ‘n besoek aan die Rawsonville-area. Aangesien die Tribeca, nes die Forester, smeek dat jy die lepel wegtrap, is sy brandstofverbruik effe hoog en het ek maar half teësinnig teen hom besluit.

 

 

Regs: Suzuki se manjifieke Grand Vitara V6 pronk saam met Koos Thiart, Monica Greeff en John Miles by Spruitdrift Kelder naby Vredendal.

 

 

 

Die fabrikaat wat my natuurlik die meeste verras het, was Suzuki, en nadat ek omtrent die hele reeks bestuur het op besoeke aan verskillende areas in die wynlande, het ek ook ‘n groot aanhanger van hierdie Japanse vervaardiger geword. Benewens hul gehalte, gerief en werkverrigting, het ek baie gehou van die prettige en sportiewe karakter wat elkeen ten toon stel. En die jeugdigheid van veral die motors, die SX4 en die Swift.

 

Onder hul SNV’e het al die Grand Vitara-modelle my beïndruk, hoewel die V6-model enige tyd vir hom ‘n permanente blyplek in my garage kan uitsoek. Ook die Jimny, waarmee ek en Lizz Meiring ‘n besoek aan Oak Valley by Elgin gebring het, het my aangenaam verras. Oukei, hy’s nie eintlik gemaak vir ‘n lang pad nie, maar hy sal baie groter en kragtiger fô-baai-fô’s op hul neuse laat kyk wanneer dit by woeswerk kom!

 

 

 

Links: Andrew Barnes van Mischa saam met Diaan Lawrenson en Jody Abrahams voor Suzuki se uitmuntende Swift.

 

 

Die Grand Vitara’s het my na die Weskus-wynroete, Rickety Bridge by Franschhoek (saam met Marion Holm) en Nuy op die Worcester-wynroete (saam met Anna Davel) geneem, terwyl die SX4 my en vroulief se metaalmetgsel na die Hemel en Aarde-vallei was. Met die Swift is ek en ‘n TV-glanspaartjie van onder meer 7de Laan, Jody Abrahams en Diaan Lawrenson, na Mischa by Wellington vir ‘n wynrubriek.

 

 

Regs: Een van die grootste verrassings vanjaar was die Daihatsu Materia. Hy't my aanvanklike skeptimisme vinnig in entoesiasme laat verander.

 

 

 

Ek het maar onlangs met Daihatsu kennis gemaak toe ek en Lise Swart van TV-faam met ‘n Materia (‘n regte Noddy-karretjie!) na Alvi’s Drift op die Worcester-wynroete is vir ‘n wynrubriek. My aanvanklike skeptimisme het gou plek gemaak vir waardering van hierdie koddige karretjie. Hy’s ruim, hy hardloop ‘n klip uit ‘n bos en hy’s gerieflik. Selfs Lise, wat ‘n groot fan van alles op vier wiele is, het na ‘n entjie gesê dat die buksie haar baie aangenaam verras.

 

Nou-ja, ‘n bedrywige wynjaar het tot ‘n einde gekom en hopelik lê ‘n minder bedrywige een voor. Die tyd sal leer!

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram