Leeuwenkuil brul met bekendstelling van vier puik wyne

Date posted:
June 1, 2012

Leeuwenkuil Family Vineyards van Willie Dreyer, geleë in die Swartland, het die Leeuwenkuil-reeks van vier puik wyne op die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel na ‘n suksesvolle bekendstelling in die VSA onder die Lion’s Lair-naam.

 

Leeuwenkuil het, as een van die Swartland se voorste druiweprodusente, agter die skerms ‘n belangrike rol in die “Swartland-Rewolusie” gespeel en druiwe aan die meeste van sy “rewolusionêre” lede voorsien. Saam met wynmakers soos Eben Sadie, wat die voortou geneem het, en later Chris en Andrea Mullineux, Adi Badenhorst, Marc Kent en ander het Dreyer in die skadu van die Paardeberg en Kasteelberg naby die dorpies Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes sy spreekwoordelike tent opgeslaan. Hierdie vernuwende wynmakers het hul druiwe gekry van “… wingerde met ‘n lae opbrengs, op die regte plek, dikwels bestaande uit bosstokke, hoofsaaklik droogland, en ou wingerde met min kommersiële potensiaal vir hoofstroom-produsente”, soos Michael Fridjhon dit so grasieus gestel het toe hy die eerste Swartland-Rewolusie-naweek in November 2010 geopen het.

 

Hieruit het chenin blanc en shiraz van die beste gehalte gekom, asook interessante Rhône-versnitte, wat die aandag van sowel die nasionale as die internasionale media gevang het, en die streek het homself gou as ‘n opkomende wynstreek in die Kaapse wynlande gevestig. Die vier Leeuwenkuil-wyne is met hierdie onverskrokke gees gemaak en gebruik die twee Rewolusie-vlagdraers chenin blanc en shiraz, elk as ‘n enkelkultivarwyn en elk as die belangrikste kultivar in ‘n versnit.

 

Leeuwenkuil, die geskiedkundige plaas in die Paardeberg-area van die Swartland, se naam is gekies vir hierdie opwindende nuwe wynreeks omdat dit die pionierende gees van die Dreyer-familie weerspieël en verwys na hul voorvaders se stryd om hul beeste teen die Kaapse leeu te beskerm. Willie en Emma Dreyer en hul vyf kinders woon op die plaas in die pragtig gerestoureerde herehuis omring deur die oorspronklike werf.

 

Die klassieke en elegante wit Leeuwenkuil-etiket het ‘n goue logo wat kunstig ‘n leeu se kop in ‘n druiweblaar bloei. Al die wyne word met ‘n skroefdop gebottel.

 

Die Leeuwenkuil-wynreeks bestaan uit:

 

Leeuwenkuil Chenin Blanc 2011

 

Hierdie wyn is verfynd en lewendig. Dit herrinner aan groen appel, grenadella en koejawel. Goeie mineraliteit lei tot ‘n vars einde. Geniet op sy eie of met ligte etes soos vis, skulpvis, witvleis en slaaie. Die voorgestelde kleinhandelprys is R40.

Leeuwenkuil Shiraz 2011

 

Hierdie lig gehoute wyn is gemaak in ‘n ligter, varser en vruggedrewe styl. Dit het oorvloedige vrugtegeure en ‘n elegante mondgevoel met ronde tanniene en lae naeltjie-, ryp kersie- en viooltjiegeure. Paar met feestelike kosse soos oondgeroosterde eend, gebraaide vleis of speseryagtige tamatiepasta. Drink nou of los ‘n paar jaar. Die voorgestelde kleinhandelprys is R55.

Leeuwenkuil Family Reserve White 2011

 

Hierdie chenin blanc-gedrewe versnit toon geure van perske, sitrus en spanspek met delikate aromas van blomme en vanielje.  Dit het goeie lengte in die mond en ‘n talmende, vrugtige nasmaak. Die wyn is ‘n versnyding van 50% chenin blanc, 20% roussanne, 16% grenache blanc, 10% clairette blanche en 4% verdelho. Die laaste vier kultivars voeg kompleksiteit en diepte aan die versnit. Hierdie wyn sal uitmuntend werk met enigiets speseryagtig, of sommer net op sy eie. Die wyn smaak nou reeds goed, maar sal nog ‘n goeie vier jaar hou. Die voorgestelde kleinhandelprys is R55.

Leeuwenkuil Family Reserve Red 2011                 

 

Hierdie donker wyn met sy aromas van wilde bessies, swart drop en rooi vrugte in die neus toon ferm tanniene en sweempies swart peper en speserye in die mond wat lei tot ‘n talmende nasmaak. Die wyn is ‘n versnit van 85% shiraz, 6% mourvèdre, 5% grenache en 4% cinsaut, almal uit wingerde wat minder as 6 ton per hektaar lewer. Geniet met rooivleis soos wildsvleis in die pot of lamsvleis. Dit komplementeer ook ryk gegeurde kase en speseryagtige disse. Die wyn behoort vir nog vyf jaar te verouder. Die voorgestelde kleinhandelprys is R60.

 

 

Bo: As mooi lekker beteken dan behoort Leeuwenkuil se wyne watertandlekker te wees! Hier stap die pragtige Dreyer-gesin op een van hul vier plase.

 

Leeuwenkuil Family Vineyards is ‘n wynonderneming met vele fasette. Druiwe is nog altyd op die vier plase, twee in die Swartland en twee in die Paarl-distrik, verbou. Een van die Paarl-plase is in die Voor Paardeberg-wyk. Die vier Dreyer-plase is gesamentlik die grootste verbouer van druiwe in die Kusstreek (Wyn van Oorsprong) en oes jaarlikse sowat 9 000 ton druiwe uit 1 100 hektaar wingerd. Tien persent van hierdie druiwe word verkoop aan bekende handelsmerke soos Fairview, Kleine Zalze en KWV, aan ‘n aantal Swartlandse wynmakers en vele ander. Nadat daar in 2008 van Perdeberg-wynkelder weg gebreek is, het Leeuwenkuil sy eie (gehuurde) kelder op die Bottelarypad buite Stellenbosch op die been gebring. Benewens die maak van die Leeuwenkuil-wynreeks, word ‘n druiweparsdiens, ‘n wynmaakdiens vir ander handelsmerke en versnygeriewe ook hier aangebied.

 

Die vier plase het ‘n groot verskeidenheid grondsoorte en die wingerdkundige, Koos van der Merwe, en sy wingerdspan is baie wetenskaplik in hul doelwit om die heel beste uit die Swartland, wat bekend is vir sy Rhône-tipe klimaat en groeitoestande, se grond te kry.

 

Koos is verantwoordelik vir die ontwikkeling van baie van die plase se nuwe wingerde. Hoewel hulle nie as organies gesertifiseer is nie, word die wingerde op gesonde, volhoubare beginsels bestuur.

 

Leeuwenkuil Family Vineyards is nog nie oop vir wynproe nie.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram