Le Bonheur val lekker op Franse tonge

Date posted:
February 4, 2011

Le Bonheur steur hom steeds nie aan die jongste modegiere nie, maar gaan op sy rustige manier voort om sy klein reeks van net vier wyne in die klassieke styl te maak en daarmee met gemak die resessie te oorleef.

 

Die globale volumeverkope van dié lank gevestigde landgoed naby Stellenbosch het in die ses maande tot Desember 2010 nie net met dubbelsyfers gegroei nie, maar vind boonop groot byval in die Franssprekende provinsie Quebec in Kanada. En dit alles ondanks die langdurende ekonomiese afswaai en aggressiewe mededinging van produsente van byderwetse lewenstylwyne.

 

Le Bonheur se Chardonnay is tans die Suid-Afrikaanse wyn wat in Quebec die beste verkoop, met sy Cabernet Sauvignon in die derde plek. Die Société des Alcohols du Québec (SAQ), ’n monopolie in staatsbesit, verkoop dié wyne in sy meer as 400 afsetpunte.

 

Die jongste beskikbare SAQ-syfers toon dat verkope van Suid-Afrikaanse wyn die laaste paar jaar in Quebec sterk toegeneem het, van 2 miljoen Kanadese dollar (R14,2 miljoen) in 2005 tot 47 miljoen Kanadese dollar (R333,7 miljoen) in 2009.

 

Kanada in sy geheel is ’n belangrike uitvoerbestemming vir Suid-Afrika en die volume van verpakte wyn wat na dié land gestuur word, het in 2010 in vergelyking met die vorige jaar met 3% gestyg.

 

Sakkie Kotzé is sedert 1993 die wynmaker op Le Bonheur en is 'n man wat hom nie maklik laat voorsê nie. Hy maak twee wit- en twee rooiwyne. Sy ander wit is ’n sauvignon blanc, en die ander rooi ’n versnit van merlot en cabernet sauvignon wat onder die naam Prima gebottel word.

 

Lize-Marie Gradwell, die internasionale woordvoerder vir Le Bonheur, skryf die landgoed se gewildheid aan die elegansie en beheersing van sy wyne toe, eienskappe wat groot byval vind by verbruikers wat van wyn in die klassieke styl hou.

 

Kotzé, wat weinig gepla is deur die toenemende gewildheid van die wyn, sê hy werk volgens 'n baie eenvoudige beginsel: “Ek verkies wyne met elegansie en probeer om die alkohol op 'n redelike vlak te hou. Ek pluk die druiwe wanneer hul gewig in my hand en die smaak in my mond reg voel, en ek volg geen resep nie.”

 

Die 2009-Le Bonheur Chardonnay is pas by die Sélections Mondiales des Vins in Kanada met ’n goue medalje bekroon.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram