Lanzerac Wines Pinotage 2019: ’n Huldeblyk aan ware Pioniers!

Elke wyn het ’n storie te vertel, maar min se storie is so mooi en interessant soos dié van pinotage, Suid-Afrika se eie en enigste inheemse rooiwynkultivar. Hier is syne.

Dit is September 1959 en Pieter Morkel (beter bekend as PK) ry een lente-oggend af in die Bottelary-pad na Bottelary-kelder met glaskanne vol jongwyn van sy 6-jaaroue pinotage-wingerd. Die wyn se kleur is mooi persrooi en die bessievrugte wys prominent in die neus. Die wyn is egter nog effe “grof”, maar so is alle jong rooiwyne mos maar op ’n gegewe tyd.  PK gaan sy jong Pinotage inskryf vir die jaarlikse nasionale jongwynskou, maar hy het nie die nodige toerusting om die bottels ordentlik te kurk nie. Sy broer, Danie, is wynmaker by Bottelary-kelder en sal hom oudergewoonte help, maar van daar af sal die wyn op sy eie voete moet staan en presteer.

Nadat daardie Pinotage – van die 1959-oesjaar – van Bellevue links en regs koerantopskrifte gemaak het met die wen van die gesogte Gen. Smuts-trofee, word dit twee jaar later, in Junie 1961, gevind in die kelders van die destydse Stellenbosch Boere Wynmakery (SBW). By “Farmers” word die wyn met die nodige respek hanteer en na bykans 2 jaar se veroudering in nuwe Franse eikehoutvate word die versnit opgemaak van PK se pinotage en ‘n bietjie hermitage van die Paarl.  Soos die gebruik in daardie jare word die wyn gebrei met ‘n bietjie gelatien en bentoniet en dan opgeswael voor bottelering … en die wêreld se eerste Pinotage op ‘n wynetiket maak sy verskyning. Die Lanzerac Pinotage 1959 verskyn die eerste keer as enkelkultivarwyn in ‘n bottel in 1961.

Die storie van pinotage behoort eintlik aan niemand nie, maar terselfdertyd ook aan almal wat daarmee te doen het en wie se verantwoordelikheid dit is om hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar as ikoon en ambassadeur vir die land te hanteer.

Met die Lanzerac Wines Pinotage 2019, ’n herdenkingswyn, is Lanzerac en Bellevue se doelwit uiteraand dit, naamlik om pinotage te vier en daarmee saam die rolspelers te eer wat elkeen ’n eie bydrae gelewer het tot pinotage.

Die “geboorteplek” van hierdie herdenkingswyn, die ou bosstokwingerd op Bellevue, oor die jare heen met liefde versorg deur Dirkie Morkel, wat in ‘n sekere sin pa staan vir hierdie spogwyn.

Gesprekke tussen Lanzerac en Bellevue rondom die projek het reeds in 2016 begin nadat die idee die eerste keer posgevat het. Rekords van versnydings destyds is opgespoor in SBW se Tabernakel, insluitende die rekord van die 1959- Pinotage. Albei wynplase het ingestem om gesamentlik iets betekenisvol te doen wat pinotage herdenk 6 dekades na die bekendstelling van die eerste pinotage ter wêreld.

En wat kan dan meer gepas wees as om na 60 jaar weer ‘n wyn van dieselfde wingerd wat uit 1953 dateer in dieselfde Lanzerac-etiket die lig te laat sien!

Bellevue het druiwe uit dié blok aan Lanzerac verskaf en in 2017 en 2018 is daar op klein skaal eksperimentele wyne in die Lanzerac-kelder gemaak in die aanloop tot die 2019-herdenkingsoesjaar.  Daar is ooreengekom op ‘n sekere hoeveelheid druiwe wat elke jaar in die herdenkingswyn aangewend sal word op Lanzerac om voort te bou op die projek.  Tydens die uitrol van die projek is daar noukeurig te werk gegaan om die 1959-wyn so na moontlik te dupliseer. Die etiket se lettertipe moes met die hand oorgeteken word en al die elemente van die oorspronklike etiket is so ver moontlik nageboots.

Die herdenkingswyn pas in ‘n vernuftige enkelkarton wat die storie van pinotage vertel en pronk met albei plase se logos voorop terwyl dié pragstuk rus in ‘n luukse, fluweelsagte “bed”, perfek vir die ernstige wynversamelaar.

Hierdie unieke wyn is te koop teen R1 950.00 in sowel Lanzerac as Bellevue se proelokale, asook op albei plase se webwerwe.  Vir meer inligting oor die wyn en die projek, besoek: www.storyofpinotage.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>