Lanzerac stel drie nuwe wyne bekend

Date posted:
December 11, 2012

Hoewel Lanzerac die tuiste van Suid-Afrikaanse pinotage is en oor die jare heen ‘n benydenswaardige reputasie vir sy pinotage-wyne opgebou het, kan dit met ‘n hele paar puik wyne spog. Dit sluit in die 2012- Rosé, die 2011- Chardonnay en die 2011- Pinotage wat pas bekend gestel is. Hierdie wyne is met toewyding en passie gemaak onder die wakende oog van die wynmaker, Wynand Lategan, en met die doel om regdeur die jaar geniet te word.

 

Lanzerac se Rosé 2012 met sy helder pienk blos is perfek vir die rustige somersdae en word verpak in sy kenmerkende “traandruppel”-bottel. In die neus dartel ‘n verskeidenheid aromas van vroeë somervrugte soos soet aarbeie, youngbessies en sweempies bosbessies rond, terwyl die mondgevoel vars, vriendelik en skoon is en na elke sluk ‘n rukkie talm.

 

Dis die perfekte somerwyn om op sy eie te geniet, lekker koud. Hierdie ikoniese wyn werk egter ook puik met slaaie, somervrugte en ligte middagetes soos vis of seekos. Die Lanzerac Rosé 2012 (foto links onder) is landwyd beskikbaar by kleinhandelaars en kos sowat R53 per bottel.

 

Die 2011- Lanzerac Chardonnay bied komplekse geure, insluitende ryp sitrus, met titsels naeltjie, gemmer, botterkaramel en vanielje. Dis ‘n volronde wyn wat nou reeds geniet kan word, lekker koud, maar dit kan vir nog twee tot drie jaar in die bottel verouder. Geniet op sy eie of met gerookte salm, wit vis, romerige pastadisse, vark of hoender. Dis ook landwyd beskikbaar by kleinhandelaars en kos sowat R92 per bottel.

 

Omdat Lanzerac die eerste pinotage in Suid-Afrika gemaak het, lê Wynand baie klem daarop om die gehalte van hierdie wyn op die vlak te hou waarvoor dit bekend geword het. Hy beskryf die 2011- Lanzerac Pinotage as donker in kleur met aromas van ryp bessies en pruime, ‘n heerlike mondgevoel en talmende nasmaak. Met vyf tot tien jaar se veroudering sal dit die fluweelagtige digtheid en weelderige sjokolade- en karamelgeure verkry van sy vroeë Lanzerac-voorgangers.

 

Dis ‘n volronde, komplekse wyn met ‘n pragtige vrugte/hout-balans en goeie tanniene wat dit goed sal laat verouder. Hierdie pinotage is die ideale pasmaat vir Maleise kerries, bobotie of wildsvleis. Hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse wyn is landwyd beskikbaar by kleinhandelaars en kos sowat R118 per bottel.

 

Vir meer inligting oor hierdie en ander wyne binne die Lanzerac-reeks, besoek  www.lanzeracwines.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram