Land en see ontmoet op Benguela Cove!

Die Benguela Cove-wynlandgoed naby buite Hermanus is besig om ‘n gewilde bestemming vir sowel wyn- as kosliefhebbers te word. Die landgoed se jongste aanbieding is ’n unieke wyn-en-oester-kombinasie wat die tonge behoorlik gaan laat gons!

Die sjef, Annie Badenhorst, berei oesters op vier maniere voor – gepiekel, gebak, diepgebraai en gerook – om by vier verskillende wyne in die Benguela Cove-reeks te pas.

Hierdie verruklike kombinasies kos R175 per persoon en lyk soos volg:

Die Benguela Cove Semillon Sauvignon Blanc 2016 word gekombineer met ‘n oester wat in ‘n pynappelsous gepiekel is, opgedien met seldery. Die semillon tem die sauvignon blanc se fris suur met ‘n effens romerige karakter wat ook die tekstuur van die plomp oester eggo. Die repies seldery belig weer die fynbos-nuanses in die wyn, en die pynappel gee dit daardie soet-suur karakter wat die sitrus-en-appel-karakter van die wyn aanvul.

Die Benguela Cove Chardonnay 2016 is ryk met meer dekadente aromas van neute, speserye en sitrus. ‘n Kosmaat met meer gewig en tekstuur is hier nodig om die ervaring te balanseer. Geniet dus hiermee saam ‘n diepgebraaide oester met ‘n hitsige drieboonslaai.

’n Kombinasies wat besoekers gaan laat smag vir meer is die Benguela Cove Pinot Noir 2015 wat pasgemaak word met ‘n gebakte oester wat die fluweelsagte tekstuur van die wyn beklemtoon. In ruil sorg die romerige bloukaas dat die aardse geure in die wyn gekomplementeer word met versuikerde spek wat die rooi vrug in die wyn na vore bring.

En vir diegene wat reken ’n “groot” rooiwyn sal nooit deug met oesters nie,  sluit die Benguela Cove Collage 2015 die hele ervaring op ’n verrassende en avontuurlike noot af. ‘n Vars oester word gerook en opgedien met beet-en-murg-emulsie. Dit beklemtoon die rokerigheid van die versnit met die rykheid van die murg wat die tanniene buffer. Die beet sorg dat die rooi vrug in die mond bly talm.

Waarvoor wag jy?

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>