Ladismith se nuwe brandewyn eer ‘n dame

Date posted:
November 12, 2010

Ladismith, die sjarmante dorpie in die Klein Karoo aan die voet van die Klein Swartberg en bekend vir sy legendes, ryk geskiedenis, appelkose en kaas, maak nou sy brandewyndebuut met ‘n agtjaar-verouderde 100%- potketelbrandewyn - geïnspireer deur ‘n ware dame!

 

Die LadiSmith Potketelbrandewyn 8 Jaar word opgedra aan Lady Juana, die Spaans-gebore eggenote van Sir Harry Smith, destydse goewerneur-generaal van die Kaap-Provinsie. Die dorp is in 1852 na hierdie formidabele vrou vernoem. 

 

“Deur die LadiSmith Potketelbrandewyn haar naam te gee, word die tradisie voortgesit om ons brandewyne op te dra aan ikone wat die geskiedenis van ons streek help vorm het,” sê Riaan Marais, hoofbestuurder van Suid-Kaap Wingerde.  “Die Klein Karoo se ekonomiese ontwikkeling is sterk geanker in bydraes van families soos die Smiths en die Overbergse entrepreneur, Joseph Barry, waarna die buurdorp Barrydale en die wêreldbekroonde Joseph Barry-brandewyn vernoem is.”

 

Die verbintenis met die Smith-familie en die omgewing word verder versterk deur die embleem van ‘n swartkopreier en ‘n doringtak wat op die bottel se elegante etiket pryk. Marais verduidelik dat die swartkopreier, wat in die Klein Karoo voorkom, ‘n integrale deel van die Smiths se familiewapen is, terwyl die doringtak die unieke landskap reflekteer. 

 

“Ons is seker Lady Smith sou in haar noppies gewees het daarmee dat hierdie agtjaar-verouderde potketelbrandewyn aanklank sal vind by vroue, en hulle welkom sal laat voel in die wêreld van brandewyn wat tradisioneel as die domein van die manne gesien word.”

 

Sy sou ook gewis haar goedkeuring gegee het aan die brandewyn se ligte hout- en neutgeure in die neus, opgevolg deur 'n lang nasmaak en sweempies jasmyn, neut en vanielje. Die aangename kaneelagtigheid van songedroogte appelringe gaan lê ook sag op die tong.  

 

Hierdie goue vog met die unieke Klein Karoo-karakter is gemaak van colombar-druiwe, ‘n druifsoort wat welig gedy in die gebied. Die druiwe word amper-ryp gepluk uit geselekteerde blokke om hoër vrugtesure en laer suikers te verseker. 

 

Colombar is ‘n Franse druifsoort wat daar vir die maak van Cognac gebruik word. Marais verduidelik dat dit veral die Ladismith-streek se nagtemperature is wat die area so geskik maak vir colombar. Weens die temperature wat so drasties afkoel in die nag, is die rypwordingsperiode van die druif langer. Suiker van die druiwe is 18 - 20 grade Balling met 'n suur van 10 - 11g/l en 'n baie lae pH.

 

Dan volg distillasie, die magiese kuns van die alchemis. Die distillasieproses word nie deur moderne masjiene en rekenaartegnologie beheer nie, maar deur die stokers se kundigheid en hand van liefde.  Dis twee maal gedistilleer in ? rare potketel ontwerp deur wyle Oom Fasie van Niekerk, ‘n legende in die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf. 

 

Daarna is die brandewyn in Franse eikehoutvate verouder onder die wakende oog van die Towerkop-gebergte. Vir agt jaar vind die wisselwerking tussen brandewyn en vate plaas sodat die hout sy deel kan bydra, die merkwaardige goue kleur verdiep en komplekse aromas en smake ontwikkel. Dan haal die brandewynmeester sy vernuf uit om brandewyn uit verskeie vate te selekteer en te versny.

 

“Siende dat die Klein Karoo ‘n kontrei is vir kleurryke storievertelling en mites wat die verbeelding op loop sit, sal dit nie vreemd wees as Lady J. Smith in die gees ook ‘n ogie hou  oor die kelder en sy skatte nie,” skerts Marais.

 

Die ligter styl waarin die LadiSmith Potketelbrandewyn gemaak is, is ideaal vir  somerdrankies, verkoel met ‘n blokkie ys of ‘n verfrissende spatsel koue vonkelwater. Op ‘n kouer aand is dit ‘n goeie pasmaat vir malvapoeding. Dis ook salig met ‘n sjokoladetruffel en espresso.   

 

Die LadiSmith Potketelbrandewyn 8 Jaar is te koop by Ladismith Kelders se proekamer of dit kan per e-pos bestel word by brandy@scv.co.za . Vir meer inligting of aanwysings na die proekamer, skakel 028 551 1042 of besoek  www.ladismithwines.co.za  

 

einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram