Laborie ‘n toonbeeld van goeie smaak

Date posted:
January 10, 2011

Ek is nie groot op “politieke korrektheid” nie en glo steeds dat 6 April 1652 een van die belangrikste datums in Suid-Afrika se geskiedenis is, miskien selfs die heel belangrikste, want Jan van Riebeek se aankoms aan die suidpunt van Afrika het onder meer gelei tot die vestiging van ‘n wynbedryf waarop alle Suid-Afrikaners kan trots wees. Dit was onse Jan en ander wat hom gevolg het wat gesorg het dat Suid-Afrika vandag ook kan spog met juwele soos Laborie aan die voet van die Paarlberg.

Sewe jaar na Van Riebeek se aankoms het sy opvolger, Goewerneur Simon van der Stel, ene Abraham Gabema op ‘n ekspedisie na die binneland gestuur. Gabema het kamp opgeslaan aan die voet van die Skilpadberg (so genoem as gevolg van die drie ronde granietrotse) en naby die Bergrivier. Hy het dit die Diamant- en Pêrelberg genoem omdat die son soggens van die doubedekte rotse af geglinster het.

In 1691 is Laborie en Picardie hier aan die Franse Hugenoot, Isaac Taillefert, uitgereik. Taillefert het twee seuns gehad, Isaac junior en Jean. Eersgenoemde het Picardie gekry en laasgenoemde Laborie. Hulle het onmiddellik wingerd begin aanplant en in 1698 is die eerste wyn hier gemaak.

Die twee plase is in 1735 saamgevoeg onder die naam Laborie et Picardie en het ‘n paar keer van eienaar verwissel voordat die KWV dit in 1972 van die Louw-familie bekom het. In daardie stadium is die plaas hoofsaaklik vir tafeldruiwe aangewend, maar in 1974 is die eerste wyndruiwe aangeplant en vyf jaar later is die eerste wyn onder die Laborie-etiket gemaak.

Die asemrowende uitsig oor die Paarl en sy omliggende berge van die herehuis se stoep af.

Vandag het die plaas van 59 hektaar altesaam 31 hektaar onder wingerd. Die toekomsplanne is glo om net kultivars soos chardonnay en pinot noir vir vonkelwyn (lees: sjampanje!) te hê en dan die beste moontlike druiwe “in” te koop vir Laborie se gewone en uitmuntende wit- en rooiwyne, en natuurlik vir daai brandewyn wat vanjaar as die beste in die wêreld aangewys is.

Die herehuis en ander geboue op hierdie pragtige landgoed is in ‘n eg Kaaps-Hollandse boustyl gebou. Saam met die natuurskone omgewing vol reuse-akkerbome, lowergroen grasperke en kleurvolle blomme bied veral die herehuis met sy indrukwekkende meubels en kunswerke ‘n blik op ‘n vergete era (ongelukkig) toe smaak en styl meer aan die orde van die dag was as deesdae. En met pragtige wingerde en die Paarlberg as agtergrond is Laborie ‘n lus vir die oog.

‘n Ontbyt aan daai laaaaaang tafel in die herehuis se eetkamer gevul met daai meubels en kultuurskatte is ‘n belewenis. Maar loop so ‘n draai deur al die vertrekke en raak groen van jaloesie, veral as jy die verblyf waarneem. Ons voorvaders het darem geweet hoe om ‘n ding te doen! Met klas en in styl!

Verblyf in hierdie stylvolle en weelderige gastekamers met lugversorging maak die hele besoek aan Laborie net soveel lekkerder.

Met my en vroulief se aankoms die Vrydagmiddag het ons eers ons bagasie in een van die agt gerieflike, lugverkoelde gastekamers langs die herehuis gaan sit voordat ons oor die grasperk na die proelokaal met sy pragtige uitsigte oor wingerde is. Tussendeur het ‘n verskeidenheid voëltjies en eekhorinkies ons luidkeels verwelkom en het ek besef: hier is rus en vrede vir vlees en gees! Jy raak die oggend na ‘n heerlike, droomgevulde nagrus wakker met die gekletter van dieselfde voëltjies en eekhorinkies, en dit kos wilskrag om nie sommer vir nog ‘n week “in te boek” nie!

In die proelokaal het El-Dez September, skakelbeampte, my ingewag en deur Laborie se indrukwekkende wynlys geneem. Ek het Laborie se drie vonkelwyne en daai Alambic-brandewyn wat vanjaar onder meer as die beste ter wêreld aangewys is by ‘n vorige besoek saam met Cobus van Graan, Laborie se bestuurder, geniet en wou hierdie keer op die gewone wyne konsentreer. Twee heerlike wittes en vyf rooies wat jou laat kwyl, is gevolg deur hul twee beperkte wyne, die Limited Chardonnay 2009 en Limited Shiraz 2008.  Al die wyne toon ‘n pragtige balans tussen vrugte- en ander, meer aardse geure, en hul elegansie in die mond is om van liries te raak.

As ek so na my proenotas kyk, lyk dit of elkeen van die tien wyne wat ek geproe het enige tyd in my keldertjie kan kom stelling inneem. Gereeld! En dit sluit die Pineau de Laborie 2004 in, ‘n unieke, potketelgedistilleerde en gefortifiseerde pinotage wat elegant soet en baie veelsydig is, byvoorbeeld op gebreekte ys in die somer as aptytwekker of saam met kaas.

Jip, die kos is so lekker (en mooi) dis selfs 'n foto werd! En die wyn natuurlik ook.

Ek het sommer daar en dan gereël dat ‘n bottel van Laborie se heerlike Sauvignon Blanc 2010 na die restaurant gestuur word vir aandete. Laborie se restaurant bied nie net heerlike ontspanning onder die groot akkerbome vir mense wat puik kos en ewe puik wyn langsaam wil geniet nie, maar die sjef, Alicia Giliomee, bewys dat hoewel dit ‘n vaardigheid is om goeie kos te maak, dit ‘n kuns is om uitmuntende kos te maak. En sy’s beslis ‘n kunstenaar!

‘n Paar minute se stap van die herehuis af is die enigste monument van sy soort in die Wes-Kaap. Die Anglo-Boere-oorlogmonument fokus op die stryd om vryheid en geregtigheid van die Kaap se Afrikaners en ander koloniste wat hulle ondersteun het. En bo-op die berg pronk die Afrikaanse Taalmonument, ‘n eerbewys aan ons wonderlike taal wat vandag so gereeld geignoreer, misken en/of verkrag word.

Paarl self is die derde oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika en dus ryk aan geskiedenis. En omdat die landgoed effektief binne die dorp se grense geleë is, kan mens maklik na byna alles stap – goeie oefening om die gevolge van al daai lekker kos en wyn teen te werk! En van stap gepraat, die wingerde teen die hange van die Paarlberg en die berg self bied heelwat paadjies vir voetslaan en bergfietsry.

Ideaal vir 'n regte Suid-Afrikaanse stoepkuiertjie - laaaaaaank en rustig, met kos en wyn uit die boonste rakke!

O ja, voor ek vergeet, Laborie kan nie net spog met sy verblyf, kos en wyn nie, maar beslis ook met sy personeel se diensvlakke. Van die sekuriteitsmense by die hek tot die personeel in die restaurant, en almal tussenin, dra by tot die vyfsterervaring wat Laborie bied.

Vir enige navrae of meer inligting, skakel gerus vir Janine Eybers, Bestuurder: Gasvryheid en Openbare Betrekkinge, by 021-807-3217, of stuur ‘n epos aan haar by janine@laboriewines.co.za, of besoek www.laboriewines.co.za. Jy sal nie spyt wees nie!

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram