Laarman Wines slaan eerste Platter-vyfstertoekennings los!

Dit is tegelyk teleurstellend en skokkend om te sien hoeveel rolspelers in die wynbedryf – van produsente en kompetisies tot sogenaamde PR-ondernemings – Afrikaans behandel asof dit ondergeskik aan Engels is, nie belangrik genoeg nie, en asof Afrikaanssprekendes nie tel nie. Dis nie net baie onprofessioneel nie, maar ook uiters beledigend. En die verskonings vir hierdie skandelike toedrag van sake is legio … en sinneloos.

Daarom is dit so goed om ’n kleiner rolspeler soos Laarman Wines te kry wat Afrikaans dieselfde behandel as Engels, en net daarom verdien Arco Laarman sy twee vyfstertoekennings in die jongste Platter-wyngids. En sommer ’n sesde ook vir elke wyn!

Jip, Laarman Wines het twee 5-stertoekennings in vanjaar se Platter’s by Diners Club South African Wine Guide ontvang vir die Laarman Wines Focal Point Chardonnay 2019 en die Laarman Wines Focal Point Cinsault 2019. Hierdie is ook die eerste keer dat Arco Laarman met ’n 5-stertoekenning in dié gesaghebbende wyngids beloon is. 

“Ek is uiters tevrede met die uitslag. Om hierdie prestasie te behaal na drie oesjare wat ek aan my eie wyne werk, is ’n bevestiging dat die wingerdterreine waarmee ek werk vir my die resultate gee waarna ek soek,” sê Laarman.

Nadat hy twee dekades lank by een van die voorste wynplase in die Kaap wyn gemaak het, het hy in 2017 sy eie wynmaakpaadjie aangepak. Arco kry sy druiwe van spesiaal uitgesoekte wingerde uit verskillende streke sodat sy wyne egte uitdrukkings van daai streke se terroir is.

In 2019 het hy hom na Vermaaklikheid in die Suid-Kaap gewend om die druiwe van hierdie unieke kusterrein en sy koeler klimaat te gebruik vir die Focal Point Chardonnay. Vir die 2019-oes van die Focal Point Cinsault het Laarman na sy wortels in die Paarl teruggekeer.

ANDER TOEKENNINGS

Sowel die Laarman Wines Focal Point Chardonnay 2019 as die Focal Point Cinsault 2019 het ’n uitstekende 91 uit ’n moontlike 100 punte behaal in die jongste Tim Atkin MW South Africa Special Report 2021. Boonop het die Focal Point Cinsault 2019 onlangs ‘n silwer toekenning op vanjaar se Old Mutual Trophy Show ontvang.

Net so terloops, Arco was een van die genomineerdes in 2018 vir Diners Club se Wynmaker van die Jaar-toekenning.

Laarman Wines het onlangs by Cape Site Specific aangesluit as deel van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen eendersdenkende produsente wat ‘n gemeenskaplike visie het om wyne van spesifieke wingerdliggings te skep. Hierdie wyne is beskikbaar by uitgesoekte winkels of aanlyn by http://capesitespecific.co.za/.

Die aanbevole kleinhandelpryse vir die twee wyne is R295 vir die Focal Point Chardonnay 2019 en R205 vir die Focal Point Cinsault 2019.

Vir meer inligting, skakel 083 546 1146 of stuur ’n epos aan arco@laarmanwines.com, of besoek www.laarmanwines.com. En volg Arco op Twitter by @ArcoWine of op Facebook of Instagram by @LaarmanWines.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>