La Motte stel 2008- Pierneef Shiraz Viognier bekend

Date posted:
May 3, 2011

Sedert die bekendstelling van sy Pierneef-reeks, is La Motte se premie-reeks stelselmatig met hierdie Franschhoekse landgoed se mees gesogte wyne uitgebrei. Die jongste toevoeging is die La Motte Shiraz Viognier 2008 wat reeds goud in die rooiwynkategorie van die 13de jaarlikse Classic Wine Trophy-kompetisie verower het, sowel as Top 100-status by vanjaar se Top 100 SA Wynuitdaging.

 

Soos in die geval van die ander wyne in die premie-reeks – wat as 'n huldeblyk aan die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Jacob Hendrik Pierneef, geskep is – word 'n Pierneef-kunswerk van 'n Suid-Afrikaanse landskap op die rugetiket van die bottel uitgebeeld.  

 

Die wyn is 'n versnit van 89% shiraz (63% van La Motte se Nabot-plaas in die Walkerbaai-streek en 26% van die Elim-streek) en 11% viognier van Franschhoek.

 

La Motte se Uitvoerende Hoof, Hein Koegelenberg, sê: “Die druiwe vir die wyn is deur 'n buitengewone seisoen begunstig. Die weer wat rypwording voorafgegaan het, was koel en het die perfekte toestande vir rustige rypwording geskep, terwyl suikervlakke stadig gestyg het en vir elegante wyne met laer alkoholvlakke gesorg het.”

 

Shiraz-wingerde in die Walkerbaai-streek groei in vlak skaliegrond en dié in die Elim-streek in koffieklip, en al die wingerde is volgens die Perold-stelsel opgelei. Die organiese bestuur van wingerde wat die Walkerbaai-druiwekomponent gelewer het, het 'n natuurlik lae opbrengs tot gevolg gehad.

 

Die 2008- La Motte Shiraz Viognier se oesjaar wyk effens af van die ryk, warm vrugtigheid van vorige oesjare, en het wyn met 'n skoon vrugtekarakter en 'n intense, sappige mongevoel gelewer. Dit is prominent in die neus met swartkersie- en framboosvrugaromas, tesame met geure van drop en witpeperspesery.

 

Hierdie gesofistikeerde versnit harmonieer perfek met 'n verskeidenheid ryk geregte soos eend, wildsvleis en speseryryke patees – trouens, enige dis wat effens meer “avontuurlustig” is. Die wyn is ook heerlik as 'n drankie op sigself.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram