KWV vier 70 jaar van Roodeberg!

Roodeberg, die bekende en beminde rooi versnit van KWV wat ’n spesiale plek in die harte van wynliefhebbers regoor die wêreld beklee, het sy 2017-oesjaar in spesiale verpakking bekend gestel om sy 70ste bestaansjaar te gedenk.

Roodeberg, die geesteskind van dr. Charles Niehaus, is in 1949 vir die eerste keer bekend gestel. Hierdie klassieke wyn is die hart en siel van heuglike oomblikke en het van die wynmaker se oorspronklike versnit gegroei tot ’n toeganklike, kontemporêre rooiwyn in pas met veranderende tye en voorkeure, maar is steeds in tradisie gesetel. Sy ryk erfenis en kleurvolle verhaal maak van hom ’n legend in sy leeftyd.

Voordat hierdie ikoniese versnit vrygestel is, het ’n paar ander weergawes in die vroeë veertigerjare die lig gesien, waaronder die Roodeberg One en Roodeberg Two, die een ’n ligter en die ander ‘n meer volronde versnit. Die naam Roodeberg verwys na die Rothenberg-wingerde buite Geisenheim in Duitsland waar Dr. Niehaus wynkunde studeer het. Dié naam het by hom opgekom terwyl hy by sy lessenaar gesit en ’n asemrowende sonsondergang oor die Paarlberge betrag het.

Dr. Niehaus het KWV se hoof-wynwetenskaplike, Dr. Abraham Izak Perold, die vader van pinotage, opgevolg. Dr Perold het Suid-Afrikaanse rooiwyne van die 1930s verhef van ligter claret-styl wyne tot meer volronde cabernet sauvignon/cinsault-versnitte.

Die samestelling van die Roodeberg-versnit was van die begin af in geheim gehul. Daar is openlik na Roodeberg verwys as ’n geheime versnit met ’n versnydingspaneel wat belas is met die finale samestelling om te verseker dat daar deurlopendheid in elke oesjaar was. Ná Dr. Niehaus se aftrede in 1971 het die versnit, volgens die destydse Platter-wyngids, hoofsaaklik bestaan uit cabernet sauvignon, shiraz, pinotage en tinta barocca. In die 1990s is Roodeberg se evolusie voortgesit toe klein Franse eikehoutvate vir veroudering ingebring is.

Vir die eerste 55 jaar is Roodeberg eksklusief vir die uitvoermark gemaak nadat Kanada in die vyftigerjare die weg gebaan het. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaners Roodeberg tot 2004 net kon verkry deur ’n wynkennis met ’n KWV-kwota, het Roodeberg altyd ikoniese status in die harte van Suid-Afrikaners geniet. Daar word vertel dat ruilhandel met gesogte toets-kaartjies, biltong en dies meer vir ’n bottel of twee niks vreemds was nie. Volgens die Januarie 1986-uitgawe van Wynboer was ’n glas Roodeberg vir Suid-Afrikaners wat oorsee woon soos ’n drukkie van hul tuisland.

Vir die Roodeberg-ondersteuners sal die 70ste gedenkbottel beslis ’n versamelaarsitem word wat in die toekoms op spesiale geleenthede oopgemaak kan word.

Hierdie rooi versnit ontvou in jou glas met aromatiese lae rooivrug, swartbessie en potlood-skaafsels wat verryk word met warm ondertone van tabak en donker sjokolade. Die smaak is elegant en afgerond met sweempies seder-eik en donker pruim wat ondersteun word deur sagte tanniene wat lank talm ná die laaste slukkie.

Die Roodeberg 2017 is landwyd teen tussen R85 tot R89 per bottel beskikbaar. Roodeberg het verskeie aktiwiteite en promosies beplan vir die 70ste vieringe. Bly op hoogte deur by die Roodeberg-gemeenskap op Facebook aan te sluit, of volg @Roodeberg_Wine op Instagram en Twitter.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>