KWV vereer SA wynpionier met unieke Roodeberg

Date posted:
November 8, 2011

KWV, die toonaangewende produsent van gehaltewyn wat wêreldwyd byval vind, het sopas die vader van sy ikoniese Roodeberg-wyn vereer met die bekendstelling van Dr. Charles Niehaus Roodeberg 2010, ‘n wyn so eiensoortig soos sy skepper. Dr. Niehaus was ‘n pionier van die Suid-Afrikaanse wynbedryf en ‘n hoogs vaardige wynspesialis wat wyd gerespekteer en geliefd was. 

 

Mens hoef maar net die naam Roodeberg te noem en goeie herinneringe van mense, plekke en geleenthede word opgeroep. Hierdie bekende KWV-wyn, wat sedert 1949 deel is van die Suid-Afrikaanse erfenis, is net so gewild rondom kuiertafels op eie bodem as in verre lande. Oor die wêreld heen is hierdie wyn deel van onvergeetlike geleenthede – van intieme samekomste tot presidensiële inhuldigings – en die herinnering van hierdie goeie tye is so naby soos die oopmaak van ‘n volgende bottel. 

 

Vandag is die skakel tussen Dr. Niehaus en Roodeberg verewig met die geboorte van die nuwe wyn. “Die Dr. Charles Niehaus-versnit is ’n wyn van wêreldgehalte, gebaseer op dieselfde filosofie wat van Roodeberg deur die dekades so ‘n groot wyn gemaak het,” sê Richard Rowe, KWV se hoofwynmaker. “Dit is onmiskenbaar anders: ‘n uitstaande wyn vir die internasionale smaak.”

 

Dr. Charles, soos hy genoem is, was ‘n ware legende in sy tyd – iemand wat die Suid-Afrikaanse sjerriebedryf insiggewend beïnvloed het en gevolglik trots sy plek in die KWV-erfenis volstaan. 

 

In 1941 het hy die jong reeks van droë wyne by die vorige hoofwynkundige, Dr. Abraham Izak Perold, oorgeneem. Die totstandkoming van die wyn wat Roodeberg uiteindelik sou word, het nie oornag gebeur nie, maar het ontwikkel uit ‘n opeenvolging van versnitte. Dr. Niehaus het met ander variëteite in die versnit geëksperimenteer, maar dit was die aankoms van shiraz in die Kaap in die laat veertiger jare wat ‘n drastiese verandering meegebring het. Sedert die begin was dr. Niehaus deel van ‘n klein groepie voorstanders van hierdie kultivar wat hy beskou het as die ideale komponent vir ‘n dieper, nuwe dimensie vir sy bekende skepping. 

 

Hy het in 1971 afgetree nadat hy ‘n onuitwisbare impak op die Suid-Afrikaanse wynbedryf gehad het. Die fakkel wat hy daardie tyd aangesteek het, is voortgedra deur ‘n aantal bekende wynmakers wat die bekende versnit verder geneem het. Tot vandag toe word dr. Niehaus onthou vir sy streng, ordelike ingesteldheid en sy groot, deernisvolle hart. Hierdie eienskappe word grootliks gereflekteer in die wyn wat sy naam dra. Verwag ‘n komplekse wyn met sterk braambessie-, swartbessie- en wildekaneelgeure, gekomplementeer deur sjokolade, botterkaramel en subtiele speserye. Diepte word verkry deur sy vrygewige vrugtigheid en elegansie op die tong en ‘n gladde struktuur en afronding. Die wyn is ideaal op sy eie of saam met gebraaide biefstuk of geurige wildsdisse.  

 

Die wyn is ‘n versnit van 50% shiraz, 40% cabernet sauvignon en 10% merlot. Die druiwe is spesiaal gekies uit wingerde in Stellenbosch, Somerset-Wes en Darling. Elke blok is met groot omsigtigheid gekies vir sy spesifieke variëteitseienskappe en uitdrukking van die terroir. Die wingerde in Stellenbosch en Somerset-Wes is hoog bo seevlak en na aan die see geleë. Hierdie nabyheid aan so ‘n groot waterliggaam reguleer die temperatuur en verseker dat die vrugte stadig ontwikkel in die gematigde en koel klimaat. Die Stellenbosch-wingerde is ook in unieke grond, genaamd koffieklip, geplant wat optimale groei-omstandighede, waterretensie en dreinering bied. Die wingerde van die Darling-omgewing bied intense druiwegeure as gevolg van die kombinasie van die grond waarin dit geplant is en die klimaatstoestande.

 

Die smaakvol verpakte Dr. Charles Niehaus Roodeberg is beskikbaar by die KWV se wyn-emporium in die Paarl, sowel as by uitgesoekte kleinhandelaars landwyd teen ongeveer R199 ‘n bottel.

 

Vandag leef die erfenis van Dr. Charles voort in ‘n wyn wat beskore is om te volg in die voetspore van hierdie legendariese man. 

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram