KWV se The Mentors doen dit weer!

Date posted:
May 27, 2011

Kort op die hakke van die KWV The Mentors Orchestra 2008 se groot prestasie op die vooraanstaande Decanter Wine Awards, het twee verdere wyne uit die The Mentors-reeks goue medaljes by die Concours Mondial de Bruxelles-kompetisie in Brussels verower. Die gesogte medaljes is toegeken aan die  KWV The Mentors Chardonnay 2010 en Shiraz 2009.

 

Bykans 7 500 wyne en spiritualieë van 49 produserende lande het deelgeneem aan hierdie kompetisie wat oor drie dae gestrek het. Inskrywings is beoordeel deur ‘n panel bestaande uit van die wêreld se mees vooraanstaande proeërs wat sommerliers, wynaankopers, -invoerders en -joernaliste ingesluit het. Die kompetisie staan bekend as die wêreld se “proekampioenskap”.

 

Die KWV The Mentors-reeks word gekenmerk deur die uiteenlopende terroir en klimaatstoestande wat Suid-Afrikaanse wyne beïnvloed. Die wyne is geskep van druiwe wat uitgesoek is van spesifieke areas en wat spesiaal in die wingerde en kelder behandel is om wyne sonder gelyke te lewer – die beste wat Suid-Afrika kan bied.

 

“Die Mentors-reeks is tipies wat ons wil skep in terme van uitmuntende gehalte, en is die toonbeeld van die nuwe KWV-energie. Dit skep die pad vorentoe vir verdere sukses in hierdie reeks, en ons is optimisties dat 2011 net soveel sal oplewer, indien nie meer nie,” sê Jeff Gradwell, handelsmerkdirekteur vir KWV The Mentors.

 

Links: KWV se The Mentors Shiraz 2009.

 

“Ons primêre fokus is om elegante wyne te skep wat sag is met gekonsentreerde  vrugtegeure. Sentraal tot hierdie filosofie is die samevoeging van vrugte uit uitgesoekte wingerde en goeie wynmaakpraktyke om wyne van internasionale standaard te lewer. In lyn met hierdie filosofie glo ons dat internasionale sukses bereik kan word met die KWV The Mentors-reeks,” voeg KWV The Mentors se hoofwynmaker, Richard Rowe, by.

 

As ‘n goed gebalanseerde en volronde wyn vertoon die KWV The Mentors Chardonnay 2010 die ware karakter van ‘n koelklimaat-chardonnay. Die wyn het pragtige vrugtegeure. Daar is sitrusbloeisel- en appelkoos-aromas met vars lemmetjie- en minerale ondertone, en ‘n effense kaneelgeur. Dit word beskryf as ‘n elegante wyn wat vars en helder is met slegs subtiele eike- en rou neutgeure in die mond, asook ‘n lang nasmaak. Die wyn is beskikbaar teen ongeveer R115 per bottel by uitgesoekte wynhandelaars regoor Suid-Afrika.

 

Die KWV The Mentors Shiraz 2009 kan ten beste beskryf word as ‘n robynrooi, volronde rooiwyn met komplekse en gekonsentreerde vrug. Aromas van swartbessies, moerbeie en bloubessievrugte word gekomplementeer deur swartpeper-, spesery- en caramel-nuanses. Die wyn is vars en lewendig met sagte, fluweelagtige tanniene wat lei na ‘n talmende, soomlose einde. Dit is beskikbaar by spesialiswinkels regdeur die land en kos ongeveer R115 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram