KWV kraai koning op SA Muskadel-kompetisie

Date posted:
May 28, 2012

KWV het koning gekraai op die 10de SA Muskadel-kompetisie. Uit 22 inskrywings het KWV die enigste drie platinum-toekennings ontvang. Dié drie wen-muskadels is KWV se White Muscadel 2005, Classic Red Muscadel en 1930- Rooi Muskadel wat ‘n spesiale erkenning ontvang het.

“Die toekennings het op ‘n baie goeie tyd gekom. Ons is al die afgelope twee jaar besig om ons erfenis te herleef deur ouer gefortifiseerde wyne in ons kelders te bottel om dit met die publiek te deel. Drie Platinum-toekennings is ‘n teken dat die toekoms goeie produkte kan lewer,” meen Johann Fourie, KWV se wynmaker.

Die Breederiviervallei het sy reputasie as muskadel-kontrei gestand gedoen en vyf goue medaljes ingeoes met Nuy Wynkelder se 2010- Wit Muskadel, Badsberg se 2011- Red Muscadel, Slanghoek Kelder se 2011- Red Muscadel, De Wet Wynkelder se 2010- Rooi Muskadel en Rooiberg Wynkelder se 2009- Red Muscadel as kroonprinse.

“Muskadelwyne verkies droë en warm weerstoestande, maar ook genoegsame water om die wingerd oordeelkunding te besproei. Dit lei tot hoë suikerinhoud en lae pH-vlakke wat die sukses van ‘n muskadel bepaal. Produsente in die Breederiviervallei is ook baie toegewyd en poog altyd om die beste gehalte te lewer,” aldus Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA en wynmaker in die Breederiviervallei.

Ander wenners is Boplaas in die Klein Karoo se 2011- Muscadel en Namaqua Wyne se Rooi Muskadel wat albei goue toekennings verower het.

Die wyne word blind geproe en volgens ‘n beproefde puntestelsel beoordeel. Die uniekheid van die verpakking speel ook ‘n rol in die puntetoekenning – iets wat dikwels die verskil tussen ‘n goue of ‘n platinum-toekenning kan beteken. Die wenwyne kan in winkels uitgeken word aan die Muskadel SA-plakker op die bottel.

“Ek dink die jaar se inskrywings was beter as ooit tevore met goeie kompleksiteit en diepte van geur. Ek sou ‘n groter verskeidenheid in verpakking wou sien, maar dit raak ook beter met die jare,” sê Dave Biggs, gerespekteerde beoordelaar en wynkenner, oor dié jaar se inskrywings.

Vir meer inligting, skakel Henri Swiegers by 082 829 6010 of stuur ‘n epos aan winemaker@badsberg.co.za.

FOTO: Die Goud- en Platinum-wenners: Voor v.l.n.r: Henri Swiegers (Badsberg/Muskadel SA-voorsitter), Margaux Nel (Boplaas), Izele van Blerk (KWV), Johann Fourie (KWV), Andrè Scriven (Rooiberg). Agter v.l.n.r: Dewald Huisamen (Namaqua Wyne), Jaco Theron (Slanghoek), Phillip Vercuiel (De Wet), Louwritz Louw (Nuy), Murray Giggins (Hoofuitvoerende Beampte). Fotograaf: Julian Kruger.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram