KWV-eerbewys onderstreep SA se ryk erfenis van gefortifiseerde wyne

Date posted:
June 19, 2012

Die aanwysing van KWV se Classic NV Tawny as die algehele kampioen op die gesaghebbende jaarlikse Port- & Wyn-uitdaging het nuwe lig gewerp op Suid-Afrika se erfenis van wêreldklaswyne. Die KWV Classic NV Tawny het uitgestaan onder die wyne van Suid-Afrika se voorste produsente en nie net die Tawny-kategorie gewen nie, maar is ook as die “Beste van die Skou” aangewys.

Hierdie lofbetuiging verleng die lys van toekennings wat KWV se gefortifiseerde wyne oor die afgelope 12 maande ingepalm het. Dit sluit die trofee in wat die 1929- Reserve Port as die Beste Gefortifiserde Wyn in die museumklas ingepalm het op vanjaar se Old Mutual Trophy-wynskou, ‘n dubbelgoue medalje vir die 1930- Muscadel LBV op verlede jaar se Veritas en die trofee vir die Beste Dessertwyn vir die KWV 1937 Heritage.

“Ons stel hierdie wyne ten toon om die kategorie vir gefortifiseerde wyne te bevorder, om bewustheid te skep en om mense die kans te bied om hulle te geniet,” sê KWV se hoof-wynmaker, Richard Rowe. “Vir kompetisiedoeleindes word hulle in die museumklasse ingeskryf, en die meeste mense is stom geslaan wanneer hulle besef dat wyne van hierdie ouderdom bestaan, om nie eers te praat van die kans om hulle te proe nie.”

‘n Hoogtepunt vir KWV is dat, bo en behalwe hul jongste prestasie op die Kaapse Portprodusentevereniging (CAPPA) se Port- & Wyn-uitdaging, die NV Classic Tawny reeds dubbelgoud op Veritas los geslaan het en beskikbaar is vir minder as R100!

“Suid-Afrika het ‘n trotse tradisie en erfenis in die maak van uitmuntende gefortifiseerde wyne en dit is jammer dat hulle ‘n nismark verteenwoordig en derhalwe nie die erkenning geniet wat hulle verdien nie,” voeg Rowe by. “Hierdie wyne staan egter skouer aan skouer met die heel beste gefortifiseerde wyne van regoor die wêreld.”

Die toekennings wat KWV se gefortifiseerde wyne reeds ge-oes het, sluit in silwer vir die KWV Classic NV Tawny op sowel vanjaar se Decanter International Wine Awards as die International Wine & Spirits Competition (IWSC); ‘n brons medalje op die IWSC vir KWV se Classic NV Cape Full Cream; silwer medaljes vir die KWV Classic NV Medium Cream, KWV Classic NV Full Cream, KWV 1969 Hanepoot Jerepigo en die KWV 1973 Hanepoot Jerepigo op vanjaar se Old Mutual Trophy-wynskou waar die KWV NV Classic Tawny ‘n brons medalje gewen het; en platinum-toekennings vir die KWV Classic NV Muscadel, die 2005- KWV Classic White Muscadel en die 1930- KWV Muscadel LBV op vanjaar se SA Muskadelkompetisie.

Hierdie toekennings, en veral dié wat op Veritas en by Old Mutual Trophy gewen is, is trotse erkenning van KWV se oorheersing as ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy met ‘n baie sterk en diverse wynportefeulje.

Vir die volle waardering en genot van KWV se gefortifiseerde wyne, beveel die wynmaakspan aan dat hulle koud bedien en met matigheid voor oë geniet word. KWV se wyne is by alle vooraanstaande drankwinkels beskikbaar.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram