Kulinêre tendense is besig om wynverbruik te beïnvloed

Ons is deeglik vasgevang in die era van globalisering en die uitruil van kulinêre idees het ’n hoogtepunt bereik. Sowel heilsame, gemaklike kos as fynproewergeregte het die hoeksteen van miljoene mense regoor die wêreld geword. Intussen inspireer glans-sjefs ’n nuwe geslag tuiskokke om “buite die boks” te dink.

Hierdie entoesiasme vir kulinêre tradisies en neigings het die fondasie gelê vir wynpasmaak as ’n ware kunsvorm. Nuwe geslagte wynverbruikers is op soek na die perfekte wyn om by die jongste, gewildste dis te pas – in die restaurant sowel as by die huis. Dit het tot nuwe geleenthede vir die bemarking en promosie van wyn gelei.

Restaurant-kultuur word gebore

Die groei van ’n restaurantkultuur strek regoor die 20ste en 21ste eeue. Restaurante in groot stede, dorpe en selfs op wynlandgoedere is vandag algemeen, maar wat as restaurante begin het wat “standaard”-kos aanbied, het gegroei in eetplekke met fynproewergeregte wat hoofsaaklik deur die Franse geïnspireer is. Waar wynlyste vir baie lank beperk was tot die uitsoek-handelsmerke, en ook net ’n paar van hulle, het smaak (en kennis) oor die jare heen ontwikkel.

Die Wine & Food Society, later bekend as die International Wine & Food Society, is in 1933 deur André Simon in Londen gestig. Dit was ’n vreemde idee en konsep vir sy tyd, om kos en wyn op so ’n manier saam te voeg, maar Simon het die fondasie gelê vir wat uiteindelik ’n standaard-prosedure sou word – om wyne te kombineer met ’n reeks disse oor ’n veelgangete. Simon het verskeie takke van sy vereniging in New York, Chicago, Boston en San Francisco gestig, wat vandag nog bestaan en steeds die boodskap oordra dat wyn die ideale “geselskap” vir enige ete is.

Nuuskierigheid oor die kontekstuele gebruik van wyn en kos het bly groei in die middel tot laat 20ste eeu, en duur voort. Die Court of Master Sommeliers is in 1977 gestig en die International Sommelier Guild in 1982. Hierdie organisasies het ’n poel gesertifiseerde spesialiste geskep wat sedertdien hoog in aanvraag geword het by restaurante wat hul wynprogramme wou uitbrei. Sodoende is ’n nuwe beroep in die wynbedryf geskep. Sommeliers en wynkenners verbreed mense se wynkennis en kulinêre ervarings deur goed deurdagte wynlyste saam te stel. Vandag is ’n restaurant se wynlys ’n noodsaaklike deel van sy aanbieding en sukses. Verbruikers dring daarop aan en die regte wynlys kan deesdae net so gesog wees soos die spyskaart.

Wyn en die Tuiskok

Die manier hoe ons by die huis kook, het ook oor die jare heen verander. Nuwe immigrante in die 19de, 20ste en 21ste eeue het nie net nuwe disse gebring nie, maar ook nuwe kos-en-wynmaats. Reis het ’n de facto-deel van ons lewens geword en dikwels bring ons kulinêre ontdekkings van oorsee terug na ons kombuise.

Fynproewer-kookkuns het so gewild geword in die 1970s dat maatskappye begin het om hoëverrigtingtoestelle vir tuisgebruik begin skep het, en daardie neighing duur tot vandag toe nog voort.

Die opkoms van vermaaklikheidsmedia het ook nuwe geleenthede vir kos en wyn geskep. In 1963 het Julia Child begin om huisvrouens uit te nooi om met kombinasies te eksperimenteer. Sy het volledige episodes bestee aan verskeie soorte wyne (hoofsaaklik uit Frankryk en Duitsland) en hoe om hulle met kos te kombineer. ’n Nuwe geslag televisie-sjefs het in haar voetspore gevolg en tuiskokke die selfvertroue gegee om nuwe dinge aan te pak. Die gedrukte media het gevolg namate die volk se belangstelling in wyn en kos toegeneem het. Vandag bestaan sommige van hierdie publikasies steeds terwyl die internet die geleentheid geskep het vir ’n verskeidenheid bloggers om ook hul bydraes te maak.

Die nuwe Geleenthede

Al bogenoemde faktore, tesame met kabeltelevisie en sosiale media, het ons kollektiewe belangstelling in wyn en kos versterk. Die Food Network het vandag miljoene kykers wêreldwyd en die jongste en gewildste kos-en-wynkombinasies is net ’n paar tikslae weg op Facebook, Twitter en Instagram. Nuwe kulinêre eksperimente versprei daagliks soos ’n veldbrand oor die internet. Die kompetisie vir likes en clicks is verwoed, met die gevolg dat hoe meer uitspattig en uniek jou dis, hoe beter. Nou meer as ooit tevore het mense die vermoë om hoëgehalte-foto’s van hul kos-en-wyn-kombinasies te neem en te plaas. En hierdie foto’s sal oor en oor gedeel word.

Wynhandelsmerke en –streke bly voordeel trek uit ons toenemende belangstelling in kulinêre tendense en verbruikers wend hulle al hoe meer na glans-sjefs as gidse tot die ideale wynkombinasies. Die bekende Anthony Bourdain, wat verlede jaar oorlede is, het heelwat lof gehad vir klein, biodinamiese wynprodusente en was glo baie lief vir jongwyne.

Geborgde etes waar die wyn net so ’n belangrike komponent as die kos is, ’n allemintige  en uiteenlopende getal kos-en-wynkombinasies wat by baie wynmakerye aangebied word en sjefs en tuiskokke wat kos en wyn as ’n reis van ontdekking en verkenning beskou eerder as ’n eindbestemming is voorbeelde van hoe kos en wyn die kulinêre toneel aangegryp het.

Streke en handelsmerke regoor die wêreld gebruik ons smagting na kulinêre tendense om hul wyne op nuwe maniere bekend te stel en te bemark. Die doel is eenvoudig: kry meer mense om meer wyn te drink, selfs en veral as dit met die regte kos gekombineer word.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>