Kruger Family Reserve – Wyne met karakter en persoonlikheid!

Toe die entrepreneur en stigter/wynmaker van Stellenview Premium Wines, Reino Kruger, die handelsmerk in 2009 gevestig het (hoofsaaklik vir uitvoer na die Verre Ooste), het dit sin gemaak om hulde te bring aan sy familie met een van die wynreekse, naamlik die Kruger Family Reserve-wyne.  Die Kruger-familie se erfenis dateer terug na die vroeë 1700s en die eerste setlaars in Suid-Afrika.

Die wyne in die Kruger Family Reserve-reeks – wat uit ’n Cabernet Sauvignon, Shiraz, Sauvignon Blanc en Chardonnay bestaan – is kompleks en elegant. Die Cabernet Sauvignon, Shiraz en Chardonnay verteenwoordig die beste druiwe wat met groot sorg tot wyn gemaak en in eikehoutvate verouder is, met baie min inmenging, terwyl die Sauvignon Blanc ongehout is met uitgebreide tyd op die moer.

Die Kruger Family Reserve Shiraz 2017, gemaak van 100% shiraz-druiwe, is deel van ’n bekroonde herkoms. In 2020 het die 2016-oesjaarwyn ’n indrukwekkende 94 punte aangeteken op die Decanter World Wine Awards, terwyl dit die vorige jaar as een van die Top 12 Shiraz-wyne aangewys is in die jaarlikse Shiraz-uitdaging. Die wyn is donker pruimkleurig en stel aromas van droplekkers en sweempies wit peper vry in die neus. In die mond is die wyn vrugtig met ferm tanniene wat “lyf” bydra tot die algehele ervaring. Geniet hom op sy eie of saam met oondgeroosterde of gebraaide vleis. Dit is ook die ideale pasmaat vir sappige, geroosterde lamsboud en is aanlyn beskikbaar teen R250 per bottel.

Nóg ’n puik wyn in die reeks wat die toekennings inryg, is die Kruger Family Reserve Cabernet Sauvignon 2017 wat nie net 90 punte in verlede jaar se Decanter World Wine Awards aangeteken het nie, maar ook goud los geslaan het op die Michelangelo International Wine & Spirits Awards van dieselfde jaar. In 2019 het dieselfde oesjaarwyn weg geloop met die titels Best Overall Cabernet Sauvignon en Best Overall Red Wine op die Old Mutual Trophy Wine Awards. Hierdie oesjaar is ongelukkig byna uitverkoop, maar die goeie nuus is dat die 2018-oesjaar nog beskikbaar is, en dit word beskryf as donker rooi in kleur met aromas van vanielje en kokosneut wat puik gekomplementeer word deur bloubessiegeure. Hierdie geure word pragtig deurgedra na die mond waar fyn tanniene en ’n vrugtige einde op die verbruiker wag. Die Cabernet Sauvignon 2018 is op sy beste met geurige rooivleisdisse en is aanlyn beskikbaar teen R250 per bottel.

Die dae toe mense hul neuse opgetrek het vir chardonnay is iets van die verlede aangesien Suid-Afrika deesdae uitmuntende voorbeelde van hierdie kultivar voortbring. Die Kruger Family Reserve Chardonnay 2017 behoort sonder twyfel in hierdie geselskap. Reino beskryf hierdie ongehoute Chardonnay as helder strooikleurig met aromas van sitrus, romerige eikehout, botter en vuursteen. Die romerige tekstuur dra deur na die mond en die wyn het ’n elegante einde. Dis ’n wyn wat as medium tot volrond beskryf kan word. Dit is geheel en al gegis in eerstevul- Franse eikehoutvate wat “medium” gerooster is en ’n digte grein of draad het. Hierdie Chardonnay kan regdeur die jaar geniet word en is nommerpas vir verouderde kase en gerookte salm- of hoenderdisse. Dit kos slegs R144 per bottel.

Laaste maar beslis nie die minste in hierdie indrukwekkende reeks nie is die Kruger Family Reserve Sauvignon Blanc 2020 met sy ligte groen skynsel. Die wyn roep beelde van “somer in ’n glas” op en bied aromas van gemmer en pynappel vermeng met fynbos. Die eerste sluk laat mens dink aan vars en lewendig met sweempies grenadella, ryp appel en peer, terwyl appelliefie en vrugteslaai met ’n minerale vuursteenagtigheid die wyn afrond. Dit is ideaal op sy eie, byvoorbeeld teen sonsondergang, of geniet dit met seisoenale slaai, seekos of hoendergeregte. Die wyn is aanlyn beskikbaar teen R144 per bottel.

Hoewel die wyne tans nie in winkels beskikbaar is nie, kan dit aanlyn gekoop word by www.stellenviewwines.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>