Est! Est! Est! Dit is! Dit is! Dit is! Na ‘n dag van wyn uit die boonste rakke, Italiaanse kos wat jou smaakkliere ‘n rieldans laat uitvoer en geselskap wat nuwe betekenis gee aan die Franse bonhomie, is dit hoe mens jou ervaring kort en kragtig beskryf. Est! Est! Est! Dit is! Dit is! Dit is!
Maar laat ek eers verduidelik. Tydens die middeleeue het ‘n Duitse kardinaal onderweg na die Pous in Rome sy voorryer vooruit gestuur om die wyn by al die herberge langs die pad te gaan toets. By dié met die lekkerste wyn het hy dan op die voordeur in Latyns geskryf: Est! Wat beteken dit is! Bedoelende dit is die beste.
By die dorpie Lucca in Toskane was een herberg se wyn só lekker dat hy drie keer die woord geskryf het! Sedertdien word hierdie wyn, ‘n witte, onder die naam Est Est Est bemark!
My Est! Est! Est! spruit uit ‘n dag saam met Giorgio Dalla Cia - passievolle wynmaker, smulpaap, sjef duisend, filosoof en deskundige op die gebied van wilde sampioene - en Tossie Lochner - vir 30 jaar lank die Afrikaanse stem uit Italië vir onder meer Monitor en vandag ‘n bekende gesig op kunstefeeste regoor die land met haar eenvroustuk, Tossie Lochner Italië – Mites & Waarhede.
Links: Gudrun Clark, Tossie Lochner, Rudi de Wet en Giorgio Dalla Cia proe aan Bilton se bekroonde wyne.
Subaru se vurige Forester het my en Tossie een nat en koue wintersoggend eers geneem na die Bilton-wynlandgoed (021-881-3714) daar aan die voet van die Helderberg in die hart van Stellenbosch se wynwêreld waar ons sou “kragte”meet met Giorgio, wynkonsultant vir Bilton, en Rudi de Wet, wynmaker. So tussen die Babelse verwarring van Afrikaans, Engels en Italiaans natuurlik!
Mark Bilton se pa, Don, het die oorspronklike plaas in 1959 gekoop. Hulle kom oorspronklik uit Engeland uit. Nadat daar vir meer as 30 jaar lank met vrugte, groente en druiwe geboer is, het Mark die plaas in 1996 by sy pa oorgeneem. Hy het die potensiaal van die plaas se grond vir wynbou raak gesien, en die res is, soos hulle sê, geskiedenis!
Maar terug na ons kuiertjie. ‘n Besoek aan die kelder is gevolg deur ‘n proesessie in die ruim proelokaal waar ons sewe Bilton-wyne geproe het, twee wittes en vyf rooies. Tossie het geen doekies omgedraai nie en haar twee wenners volpunte gegee. Die Bilton Merlot 2005 is begroet met “My geliefkoosde wyn”, terwyl die Cabernet Sauvignon 2005 ‘n “Jou sexy ding!” ontlok het.
Hoewel die Bilton Viognier 2008 vir my die lekkerste van die twee wittes was, het drie rooies die meeste punte op my telkaart verdien, naamlik die Cabernet Sauvignon, die Shiraz 2005 en die Pinotage 2007.
Interessant genoeg is pinotage nie Rudi se gunsteling-kultivar nie, “but if we have to do it, we do it well”, aldus Giorgio. “And that’s no lie!” aldus ek.
Regs: George en Tossie tussen honderde bottels grappa van die Dalla Cia-distilleerdery op Stellenbosch.
Hiervandaan is ons na die Dalla Cias se grappa-distilleerdery (021-888-4120) daar by Bosman’s Kruising naby die Stellenbosch-stasie waar Giorgio se seun, George, ons verduidelik het hoe hierdie Italiaanse witblits gemaak word. Toe is ons reg langsaan na Pane e Vino (021-883-8312), ‘n eg Italiaanse eetplekkie waar George se vrou, Ellena, jou smaakkliere bederf soos net die Italianers kan.
Ons het afgeskop met ‘n tipiese Italiaanse antipasti van prosciutto crudo (Parma-ham), coppa, salami en mortadella met fior di latte mozzarella en groen olywe, terwyl die hoofgereg bestaan het uit risotto met porcini-sampioene! En hierdie feesmaal is vergesel van vier Dalla Cia-wyne, twee wittes en twee rooies.
Links: En dis mos hoe daar samesyn gevier word! Kos, wyn en mense in harmonie.
Die meer klassieke, ouwêreldse styl-wyne van Dalla Cia het minder goed met Tossie se mond gewerk, maar veral die Sauvignon Blanc 2008 het haar laat murmereer van sy “baie vrugtesmake, fluweelgevoel en elegansie”. Vir my het hierdie witte ook beïndruk met sy veelsydigheid. Hy werk ewe goed as drink- en koswyn. Die Dalla Cia Cabernet Sauvignon 2006 het my egter uitgeboul met sy ryk vrugtegeure en elegante smaak met net so ‘n sweempie tanniene om jou te herinner jy drink die meneer van rooiwyne.
Robert Mondavi het in sy outobiografie, Harvests of Joy, gesê vir hom is wyn passie. Dis familie en vriende. Dis warmte in die hart en vrygewigheid van gees. Dis kuns. Dis kultuur. Dis die essensie van beskawing en die kuns van die lewe.
Daai Donderdag aan die begin van Junie is Mondavi só reg bewys dat ek nou self gaan wyn maak, dan Italiaans leer en daarna my naam na Giovanni verander! Of andersom!
Wynwiele:
Kyk, sekere karre doen dit mos net vir my! Sedert my motorskryfdae is ek lief vir brute krag, maar darem nie onbeteuld nie, en spoed. So het die eerste sestienklep- Jetta sy pad na my motorhuis gevind, en later ‘n Porsche 944 S2-kabriolet en meer onlangs ‘n blitsige Audi A4.
Byskrif: Goeie geselskap - 'n vurige Japanner, 'n passievole Italianer en 'n Afrikaanse espresso.
Toe ek dus Subaru se vurige Forester XT geleen word met die waarskuwing, “Oppas, hy’s nie ‘n kat wat jy sonder handsoene pak nie”, het ek geweet hier kom ‘n ding. Iets soos H.K.G.K!
En glo my, daai vurige fô-baai-fô met sy turbo-aangejaagde enjin van 2,5 liter wat ‘n hartklopversnellende 169 kW uitskop, is ‘n ding. ‘n Lekker ding!
As jy nou ‘n padvark soos die aap wat hy is, wil laat voel, trek kort agter sy moutirkar in met breë wiele soos Michael Schumacher se F1-Ferrari en ‘n drukvlerk ewe groot op sy gat, en flits jou ligte! Dan kyk jy hoe ta deur daai ratkas gaan soos ‘n sakkeroller deur ‘n ryk ou antie se handsak terwyl hy die lepel tot by die voorste buffer trap en die plaasvervanger van sy persoonlikheid sulke oliewolkies uitspoeg terwyl die “revs” dreig om al wat ‘n enjinonderdeel is net daar op die teer te los soos ‘n jong hondjie met diaree!
Sit dan ewe nonchalant jou flikkerlig aan, “drop” ‘n rat of twee en laat jou groot toon daai lepel so ‘n slag kielie. Wanneer jy dan soos ‘n vetgesmeerde blits by hom verby trek, vryf jy sout in sy groot, oop wonde met ‘n dankiesê knik van die kop of wuif van die hand!
Glo my, hy gaan baie lank wonder wat vir ‘n fô-baai-fô dan só vinnig en minagtend by hom verby is. Sien, die Forester XT lyk nie na ‘n resieskar nie, maar hy’s so na aan een (wat ook nog die vermoëns van ‘n kompakte viertrekvoertuig het) as f.. aan ‘n vloekwoord is!
Die slegste was natuurlik toe ek hom moes terug gee. Lanklaas het ek so gehoop (en skelm gebid!) die mense van Subaru vergeet hulle’t vir my die bederf geleen! Ek het in my geestesoog gesien hoe my twee fietse (een vir die pad en een vir die berg) en my kajak op daai vuurwa gepas het! Maar ai …
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast