Knorhoek vonkel met sy eerste brut rosé – Konfetti 2010

Date posted:
February 1, 2011

‘n Nuweling het pas sy buiging in Suid-Afrika se keurspel van rosé-vonkelwyne gemaak met die onthulling van Knorhoek se eerste pienk vonkel – Konfetti 2010 – geïnspireer deur die vele sprokiestroues wat gereeld by dié Stellenbosse juweel aan die voet van die Simonsberg gevier word.

 

Hierdie uiters vrugtige brut (oftewel droë) rosé is ‘n uitbundige samestelling van pinotage (56%), cabernet franc (27%), merlot (13%) en cabernet sauvignon (4%) wat straal met ‘n vrolike spookasemblos.

 

“Ons Konfetti-rosé-vonkelwyn beskik oor al die regte eienskappe om die sintuie opnuut te laat vonkel. Dit is onpretensieus elegant, en met sy verfrissende, lewenslustige smaak sorg dié pienk vonkelwyn vir goeie tye en blywende herinneringe lank na die partytjie verby is,” verduidelik Knorhoek se wynmaker, Arno Albertyn.

 

Knorhoek se Konfetti 2010 verlei met ‘n sensuele bessieboeket en toon ‘n aanloklike varsheid en ‘n indrukwekkende fyn mousse wat aangevul word met ‘n natuurlike suurgehalte wat lei tot ‘n verfrissende, droë nasmaak

 

“Die regte suikerbalans van die druiwe wat ‘n uiters vrugtige karakter toon, is verkry deur sorgsame koue fermentasie vir vier weke nadat dit toe vir nog twee maande op die gisafsaksels vertoef het voordat dit gefiltreer, gekarboniseer en gebottel is,” voeg Arno by.

 

Die nuwe Konfetti 2010 sit as ‘n alledaagse vonkelwyngenot die wip terug in die waggel na ‘n lang dag op kantoor en is die ideale ysbreker by trou-onthale of vir daardie besonderse oomblik saam met die spesiale persoon in jou lewe. Met sy sakpasprys is dit ook ‘n “moet hê”-item in elke yskas.

Hierdie vonkelviering kos R55 per bottel en is beskikbaar direk vanaf die Knorhoek-kelder. Vir meer inligting en wynbestellings, skakel Knorhoek by 021 865 2114/5 of besoek www.knorhoek.co.za.

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram