Knorhoek vier tien jaar van ‘brullende cabernets’

Date posted:
November 2, 2010

Knorhoek, ‘n Stellenbosse wynveteraan aan die voet van die Simonsberg wat bekend is vir sy repertoire van “brullende” cabernet sauvignon-wyne, vier tien jaar van passievolle toewyding tot hierde spesifieke variëteit met die bekendstelling van die 2007-oesjaar.

 

 

Hierdie cabernet sauvignon-spesialis se naam dateer uit die 1700s toe mense na dié landgoed, wat daardie tyd aan ‘n ene Martin Melck van Holland behoort het, verwys het as “de plaas waar de leeuwen knorren“, oftewel die plaas waar die leeus brul. Melck het later die stukkie paradys vir sy dogter as ‘n trougeskenk gegee en sedertdien is dit die eiendom van die Van Niekerk-familie. 

 

Die mede-eienaar, Hansie van Niekerk, vertel dat sy familie reeds in die 1930s wyne begin produseer het, maar dat dit eers in 1997 was dat die plaas sy eerste cabernet sauvignon onder sy eie naam en etiket die lig laat sien het – ‘n wyn wat sy merk gemaak het met niks minder nie as ‘n dubbelgoue Veritas-medalje!

 

Vandag beskou die Van Niekerks cabernet sauvignon as die plaas se vlagskip-kultivar. Hierdie keldertrots het hulle al menige Veritas-toekennings, vierster- Platter-toekennings, ‘n goue medalje by die internasionale Michelangelo-wyntoekennings, die “Beste Cabernet“-titel by die SA Terroir- en Winemakers’ Choice-toekennings, en 4 en 4½ sterre in die tydskrif WINE oor die afgelope dekade besorg.

 

Geskoei op dieselfde suksesresep as sy voorgangers, word niks minder verwag van die 2007- Knorhoek Cabernet Sauvignon nie. Dit is gemaak van twee verskillende klone op die plaas, een wat tipiese cabernet-eienskappe aan die wyn verleen en die ander een gekenmerk aan sy groenmentgeur.

 

“Ek is uiters beïndruk met ons jongste oesjaar wat indrukwekkende finesse, intensiteit en ‘n merkwaardige verouderingspotensiaal toon te danke aan Knorhoek se gunstige terroir. Die jaar 2007 was ‘n besonderse jaar wat rooiwyne betref en alles het net seepglad verloop. Met hierdie jaar vier ons tien jaar van besonderse Knorhoek-cabernets,” vertel die wynmaker, Arno Albertyn.

 

Arno berus by tydsame, tradisionele wynmaaktegnieke en het sy 2007-oesjaar in Franse eikehout verouder vir 20 maande, alhoewel nuwe vate slegs vir 30% van die wyn gebruik is siende hy verkies dat die natuurlike vrugtesmake seeviër bo ‘n oorgretige houtkarakter.

 

Die volronde Knorhoek Cabernet Sauvignon 2007 – wat ook ‘n tikkie merlot (10%) en cabernet franc (5%) bevat – is ‘n ryk en komplekse wyn met ‘n sagte tannienstruktuur en talmende speserygeure wat die wyn sysag afrond. Pronkend in ‘n dieprooi gelaat, onthul die wyn sensuele lae van swartbessies en ryp pruime wat harmonieus ondersteun word deur groenment, marsepein en amandelgeure.

 

Hierdie elegante wyn is die ideale keuse vir jou Kersfees- of Sondagmaal, en is veral lekker saam met boud-, wilds- en volstruisvleis, terwyl vegetariërs dit ook saam met tamatieryke pastas sal geniet. Of jy kan dit wegbêre vir nog drie tot vyf jaar vir die wyn om sy volle potensiaal te bereik. 

 

Die Knorhoek Cabernet Sauvignon 2007 is beskikaar vanaf R98.95 per bottel direk vanaf die kelder of landwyd by uitgesoekte wynhandelaars.  

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram