Knorhoek stel tweede oesjaar van sy sakpas- Two Cubs Rosé bekend

Date posted:
May 31, 2011

Die Stellenbosse wynveteraan, Knorhoek, wat bekend is vir sy “brullende” reeks cabernets en gehalte-witwyne het pas die jongste oesjaar van sy gewilde rosé in sy ewe gewilde Two Cubs-reeks van toeganklike, sakpaswyne bekend gestel. 

 

Die genotvolle Two Cubs Rosé 2011 vestig opnuut die aandag op kwaliteitwyne teen billike pryse, terwyl dit in lyn bly met die gepoetste elegansie waarvoor Knorhoek erkenning dra. Hierdie uitgelate pienke met sy vrolike spookasem-blos is ‘n simfonie van shiraz (39%), merlot (30%), cabernet sauvignon (19%) en ‘n titsel pinotage wat stylvol uiting gee aan gekonsentreerde geure en ‘n natuurlike suurbalans, met sensuele bessies in die neus.

 

“By Knorhoek is ons passievol oor al ons wyne en sit ons net soveel toewyding en sorgsame ywer in die maak van ons bekostigbare reeks as met ons bekroonde uitsoekwyne. Die naam van ons onopgesmukte, noem dit maar ‘makker’ Two Cubs-reeks, weerspieël perfek wat van die inhoud van die bottels verwag kan word - genotvolle wyne met gees,” verduidelik Knorhoek se wynmaker, Arno Albertyn.

 

Die Two Cubs Rosé 2011 is afkomstig van wingerde geleë in ‘n hoek van die Simonsberg waar leeus eens gebrul het, en party van die druiwe is vroeg gepluk om ‘n vars, jeugdige smaakprofiel aan die wyn te verleen, terwyl van die druiwe teen optimum rypheid geoes is om ‘n meer intense mondgevoel en volronde geure by die wyn in te boesem.

 

Dit is die perfekte aptytwekker voor ete en ‘n bobaas-ysbreker by troues en partytjies. Die Two Cubs Rosé 2011 smaak vorentoe saam met ligte vleissoorte, vars slaaie of seekos-sensasies, maar is ook die ideale keuse saam met al fresco-etes in die tuin.

 

Die sakpas- Two Cubs Rosé 2011 is verkrygbaar vanaf R30 per bottel direk vanaf die kelder of landwyd by uitgesoekte wynhandelaars.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram