Kleinood in naam, kleinood in wese!

Volgens die verklarende woordeboek beteken die woord “kleinood” juweel of waardevolle besitting. Die woordeboek is uiteraard saamgestel voordat die boetiek-wynlandgoed Kleinood buite Stellenbosch tot stand gekom het anders nie sou dít beslis ook as betekenis aangeteken gewees het. Dis beslis ‘n “waardevolle juweel” in die kroon van die Stellenbosse wynstreek.

Prentjiemooi!

Kleinood bied ’n asemrowende uitsig op die Moordenaarskloof en Konstabelkop. Dis hier waar die Helderberg en die Stellenboschberg bymekaar uitkom.

Of poskaartmooi! Kleinood se kleurvolle tuin bied asemrowende uitsigte op die wynplaas se natuurskone omgewing.

Hierdie egte boetiek-wynlandgoed in die Blaauwklippenvallei aan die buitewyke van die Eikestad het net 12 hektaar grond wat vir landbou gebruik word. Tien hiervan word vir wyn aangewend met die ander twee vir olywe. Die res van die plaas word beslaan deur onder meer fynbos, rose en groente.

Maar hoe het hierdie nuweling in die Stellenbosch-wynstreek tot stand gekom? Twee dekades gelede het die plaas wat vandag as Kleinood bekend staan baie anders gelyk as vandag. Die pragtige ligging en omgewing was uiteraard reeds daar, maar dit was ’n afgeleefde en verwaarloosde vrugteplasie in een van die streek se mooiste valleie waar berge die “grense” vorm en ’n rivier deur die natuurskone vallei kronkel.

Die proelokaal kyk uit op hierdie kleurvolle binnehof.

Gerard en Libby de Villiers het egter die potensiaal raak gesien en besluit om dit deel van hul familiegeskiedenis te maak. Wingerde en ’n olyfboord is met die verloop van tyd aangeplant. Toe is ’n kelder gebou, een wat van buite lyk of hy lank reeds deel van die landskap is, maar binne sy jeug ten toon stel in

Kleinood se “nektar van die gode” verouder in hierdie vate.

die jongste wynmaaktegnologie. Die kelder verteenwoordig die strukturele en tegnologiese kundigheid van sy eienaar-ontwerper, Gerard self, in ’n slim kombinasie van tegnologie en tradisie. Dit is ontwerp om sagkens met die druiwe te werk en die wynmaker, Reynie Oosthuizen, die grootste mate van buigsaamheid te bied.

Versigtige en noukeuring sortering van die korrels sorg dat net die beste in elke bottel Tamboerskloof-wyn gaan.

Net so terloops, Gerard is ’n ingenieur wat sy loopbaan daaraan wy om kelders te ontwerp, terwyl Libby se kreatiewe talente oral te bespeur is. Verder is hy ’n direkte afstammeling van die Franse Hugenoot, Jacob de Villiers, wat die bekende plaas Boschendal gekoop het nadat hy in 1688 na die Kaap die Goeie Hoop verhuis het.

Kleinood se nektar uit die wingerd en die boord.

“Elke halwe hektaar blok wingerd word bestuur as ’n afsonderlike eenheid wat betref besproeiing, oes, pars, gis en veroudering,” verduidelik Reynie. “Jaarlikse infrarooi opnames van die wingerdblokke om die groei en rypheid van verskillende areas in die blokke te bepaal, stel ons in staat om die druiwe op die ideale tye te pluk, uiters belangrik vir die maak van Tamboerskloof-wyne.

Die hoogtepunt van ons besoek, wynproe saam met Marisca.

“Ons wynmaakfilosofie word onderstut deur ’n toewyding aan en verbintenis tot die skep van uitsonderlike en intens persoonlike wyne van die hoogste gehalte.”

Net om verwarring te voorkom, Kleinood se wyne word onder die Tamboerskloof-vaandel bemark. Hoekom?

“Ons het besluit om ons wyne na die Kaapstadse voorstad Tamboerskloof te vernoem,” vertel Gerard. “Dis waar ons 25 jaar lank gebly het voordat ons Kleinood toe getrek het. Dis in Tamboerskloof waar ons kinders, John Spicer en Katharien, gebore is en waar die droom van Kleinood begin het.”

Marisca van Zyl, Bemarkings- en Verkoopsbestuurder, sê na verskeie jare se deeglike en sorgvuldige navorsing van die grondsoorte en klimaatstoestande op die plaas is besluit om shiraz, mourvèdre, rousanne en viognier aan te plant teen die noordelike en suidelike berghange. En dis hierdie druiwe wat sorg vir die reeks puik wyne wat trots die Tamboerskloof-etiket dra. Daar is agt wyne in die reeks – Syrah, Mourvèdre, Rousanne/Viognier, Viognier, Katharien Rosé en John Spicer Syrah, die vlagskipwyn.

Die De Villiers-familiewapen bo en onder die skaap wat op Tamboerskloof-wyne pronk.

Maar dis nie net die naam wat my aanvanklik laat kop krap het nie, ook die etiket het nuuskierigheid ontlok. Die skaap wat ’n vlag dra op die etiket is afkomstig van die oorspronklike De Villiers-familiewapen. Die Agnus Dei of Lam van God, soms die Paaslam genoem, wat op die De Villiers-familiewapen voorkom, verwys na Christus wat Johannes die Doper die Lam van God genoem het. Hierdie beeld was baie belangrik as ’n godsdienstige simbool vir Christene in die algemeen en moontlik selfs meer so vir die Franse Hugenote wat weens godsdienstige vervolging uit Frankryk gevlug het.

Kleinood se juwele eindig egter nie by wyn en olywe nie. Sedert die familie hier aangeland het, het hulle kreatiewe samewerking aangemoedig en verwelkom. Die Komposjaart Residency op die plaas is ’n natuurlike uitvloeisel van hierdie fisolofie. Dis ou perdestalle wat omskep is in ’n kunstenaarsateljee en –verblyf, en is beskikbaar aan alle kunstenaars vir ’n tysperk van tot ses weke om hul kreatiewe talente te beoefen.

Wanneer jy dus weer die naam Kleinood sien, of Tamboerskloof op ’n wyn-etiket, of vir die eerste of soveelste keer die smal stofpaadjie afry na die kelder tussen die kanferbome en wisteria, onthou dat jy ’n ware juweel betree. Hier word passie en kreatiwiteit nie net in ’n bottel gevind nie!

Vir meer inligting, skakel 021 880 2527 of stuur ’n epos aan office@kleinood.com, of besoek www.kleinood.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>