Klein Drakenstein is vol verrassings

Date posted:
April 30, 2009

Benjamin Franklin het eendag gesê: Ons hoor van die omsetting van water in wyn by die huwelik van Cana as ‘n wonderwerk. Maar hierdie omsetting, deur die goedheid van God, vind elke dag voor ons oë plaas. Kyk na die reën wat uit die hemele op ons wingerde neerdaal, wat hulself in die druiwe inkorporeer om in wyn verander te word; ‘n aanhoudende bewys dat God ons lief het en daarvan hou om ons gelukkig te sien.

 

Kyk, so ‘n bek verdien mos jêm! En in hierdie geval, druiwe- of moskonfyt.

 

So wen ek en vroulief toe mos ‘n naweek se verblyf in die asemrowende Cascade Manor daar aan die voet van die Du Toitskloofpas, in die hart van die Klein Drakenstein. En ‘n paar wyne, kase en olyfprodukte van daai omgewing. Dis nou in die Paarl se Shirazfeeskompetisie. En gepla soos ek nou maar is met wyne en die lekker lewe, doen ek toe bietjie navraag en vind uit daar is so ‘n paar heel noemenswaardige wynmakers in daai omgewing, waarvan twee vir my heeltemal vreemd was.

 

Een Vrydagoggend vat die twee van ons toe mos die N1 noordwaarts, draai links by Uitgang 62A na Worcester (Sonstraalweg) so skuins voor die tolhekke, links by die stopsraat, oor die volgende stopstraat en regs by die derde een (Keerwederpad). So 1,8 km verder aan vind ons die ingang na Mellasat aan ons regterkant. Ons volg toe die grondpaadjie tot by die kelder en proelokaal van hierdie boetiekwynmakery.

 

Mellasat (021-862-4525) is in 1996 deur Stephen Richardson, ‘n Engelsman met nog ‘n plaas in Norfolk, aangeskaf, maar sy geskiedenis dateer terug na 1693 toe hy as Dekkersvlei gevestig is. Hierdie boetiekwynplaas, met sy pragtige uitsigte op Paarl en sy bekende granietrots, het maar net 8 hektaar onder wingerd, hoofsaaklik chenin blanc, cabernet sauvignon, shiraz en pinotage.

 

Hoewel Stephen slegs 6 wyne produseer, het hy al pryse sowel plaaslik as oorsee gewen, en mens verstaan gou hoekom as jy die wyne proe. O ja, hy maak ook ‘n wit pinotage, glo die eerste in SA.

 

Hiervandaan is ons terug na die teerpad, links en toe 1,8 km verder regs by die vierrigtingstop op die Sonstraalpad. So 1,4 km verder het ons verby Ashanti gery (ons sou later die dag by die eetplek christine’s at ashanti middagete kom geniet) en so 3 km verder het ons die imposante ingang na Nederburg, een van die bekendste name in die wynwêreld, gevind.

 

Nou-ja, net die naam Nederburg (021-862-3104) vertel sy eie storie. Maar ‘n besoek aan hierdie geskiedkundige wynplaas is ‘n absolute móét, en nie net vir sy skitterende wyne nie. Hier is net soveel te sien as te proe. ‘n Reuse-kelder, ‘n verouderingskelder met sowat 4 000 eikehoutvate, ‘n klein potketeldistilleerdery vir brandewyn, ‘n museum, en ten slotte, ‘n herehuis wat die prag en praal van ‘n verlore tydperk in herrinnering roep.

 

Byskrif: Nederburg se wingerde met die pragtige berge as agtergrond.

 

En natuurlik, hier’s wyne te kies en te keur, vir elke moontlike smaak. En ‘n brandewyn wat jou knieë in jellie verander.

 

Ek het geproe en geproe en alles het net lekkerder en lekkerder geword. En toe haal die gawe meisie ‘n witte uit wat nie minder nie as 8 kultivars bevat, die Ingenuity 2007 in ‘n so ‘n sexy bottel, en net toe ek harpe begin te hoor, plaas sy die rooi Ingenuity 2005 voor my neer, ook in so ‘n sexy bottel. Hy’s ongefilter en bevat ‘n hemelse versnit van sangiovese, barbera en nebbiolo, al drie taljaners! En dis mos nou toe die engelekoor by die harpe oorvat!

 

Vroulief het gesien hier kom ‘n ding en my liefies daaraan herinner dat haar maag so begin voel-voel na haar rug. Ons is terug tot by christine’s at ashanti (021-862-6288) waar ons ‘n heerlike ete op die grasperk langs die groot dam geniet het.

 

Versadig en verkwik is ons toe weer in die rigting van Nederburg, maar so 800 meter verder het ons regs gedraai op die Watervalpad en 4 km verder weer regs op die Watervalpad na die Cascade Manor-gastehuis, ons basis vir die volgende twee dae.

 

As jy nou praat van ‘n lus vir die oog, dan praat jy van Cascade Manor (021-868-0227). Majestueus, soos Versailles in Frankryk, pronk hierdie gastehuis tussen groen grasperke, sipresbome, eksotiese palms, olyfboorde en wingerde, en so ‘n paar honderd meter verder in die kloof op hoor jy duidelik die waterval se roepstem.

 

Volker Goetze (eienaar) noem homself ‘n stokperdjiekok,maar die disse wat hy vir ons voorgesit het, sal menige cordon blue chef na die naaste houertjie vlugsout laat gryp. En dan maak hy ook nog olyfolie en salami wat jou aan die lekkerste lekker herinner.

 

Daardie namiddag het hy ons op die voorstoep getrakteer met ‘n olyfolieproe wat ‘n ware eye opener was. Ek het nooit geweet olyfolies kan só van mekaar verskil wat reuk en smaak betref nie. Maar nou-ja, mens is mos nooit te oud om te leer nie.

 

Byskrif: Volker besig met die interessante olyfolieproe op die stoep van Cascade Manor.

 

Na ‘n heerlike nagrus en ‘n onverbeterlike ontbyt is ons tweetjies toe op soek na Mooi Bly, nóg ‘n wynmaker in daai omgewing waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Terug by die teerpad het ons regs gedraai, weer regs by die T-aansluiting so ‘n entjie verder, regs gehou by die vurk en so ‘n kilometer verder die eerste Mooi Bly-naambord gesien, waar ons links is, 500 meter verder regs en nog 500 meter verder die ingang links gevind het.

 

Mooi Bly (021-868-2808) se Belgiese eienaars praat van ‘n gasteplaas omdat daar nie minder nie as vyf selfversorgende kothuisies is, asook swembaddens en uitsigte om elke krieseltjie stres te laat verdwyn. En as jy nie lus voel vir stilsit nie, gaan op ‘n staptoer deur die wingerde wat eindig in die kelder met ‘n wynproe. Dis wat ons gedoen het en ek kan dit aanbeveel.

 

Hierdie privaat kelder maak vier wyne - ‘n chenin blanc, ‘n chardonnay, ‘n cabernet sauvignon en ‘n rosé wat van pinotage- en shiraz-druiwe gemaak word.

 

Met die terugry huistoe het ek en vroulief te lekker gesels oor my sogenaamde aftrede wat daartoe gelei het dat ek vandag die voorreg het om oor wyn en wynverwante aangeleenthede te kan skryf, en die wonderlike areas wat ons van tyd tot tyd in die Kaapse wynlande besoek.

 

Elke area bied iets baie besonders, en dis nie net wyn waarvan ek praat nie!

 

Einde

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram