Klawer se Villa Esposto Rosé laat jou toonnaels krul van pure lekkerte!

Waar’s die dae toe koöperatiewe wynkelders by uitstek bekend (of is dit eerder berug) was vir grootmaatwyn, dikwels van twyfelagtige gehalte. Wel, daai dae is gelukkig tot die geskiedenis verban want vandag maak hulle net sulke lekker wyn – en van puik gehalte – as gewone wynkelders en -landgoedere.

Klawer Cellars se Villa Esposto-reeks is ’n goeie voorbeeld hiervan. Die wyne is geskep om hulde te bring aan die Italianers wat nie net ’n groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf gemaak het nie, maar ook op vele ander terreine, soos byvoorbeeld die bou van die kanaal langs die Olifantsrivier wat vandag ’n “lewegewende fontein” in hierdie droë wynstreek is. Die reeks word vernoem na een Italianer in die besonder, naamlik ene Louis Theodore Esposto, wat in 1914 na Suid-Afrika gekom en hom hier gevestig het.

Nes ek na kos kyk in terme van “fynproe” en “heilsaam” (’n ander woord vir liplek-lekker), sien ek wyne in dink- en drinkterme. ’n Dinkwyn vir my is een wat jou laat stop en dink oor hom, en selfs bietjie gesels, terwyl ’n drinkwyn een is wat jy net eenvoudig geniet vir wat hy is. Byna soos ’n driestukpak teenoor ’n T-hemp, denim en tekkies. Terloops, ek verkies laasgenoemde!

Moenie my verkeerd verstaan nie, ’n fynproewermaal is iets besonders en moet elke dan en wan ingepas word, nes ’n “groot” wyn wat jou in jou spore stop en dwing om ernstiger op te neem. Maar die lewe gaan – aan die einde van die dag, soos onse Naas dit altyd stel – oor uitspan en ontspan.

Nou-ja, terug na Villa Esposto. My jongste, genotvolle ervaring van hierdie reeks was die 2016- Rosé wat ek saam met seekos by ’n eetplekkie teenaan die see langs die Weskus geniet het. Dié rooswyntjie word van pinotage gemaak en het ’n donker pienk kleur. Hy’s heerlik droog en spog met geure van aarbeie en kersies wat pragtig gebalanseer word deur speserygeure. Hoewel die speserygeure aanvanklik sterk was, het dit ligter en meer in balans geword nadat ek die wyntjie bietjie laat “asemhaal” het.

Klawer se Villa Esposto Rosé 2016 is nie net plesierig op sy eie nie, maar hy pas homself baie goed aan by ’n verskeidenheid disse. My ete het uit twee romerige disse bestaan, eers mossels in ’n knoffelroom en toe ’n romerige seekospasta, en in albei gevalle het die rooswyntjie hom deeglik van sy taak gekwyt. Hy’t nie net skour-aan-skouer met albei disse gestaan nie, maar sy asiditeit het die romerigheid van albei pragtig hanteer. Selfs vroulief se “cheddamelt steak” kon hom nie afskrik nie.

Daar’s ’n witwyn wat in ’n kleurvolle, vet bottel bemark word met so ’n ellelange beskrywing. Hy laat my aan die Villa Esposto Rosé dink. Dis ’n piekniek-partytjie-plesierige wyn wat nie net ’n glimlag na jou mond sal bring en ’n vonkel in jou oog sal sit nie, maar sommer ook ’n lied na jou hart sal bring. En dan’s hy nog prysenswaardig ook! Klawer Cellars se Villa Esposto Rosé 2016 het pas sy staal getoon op die Rosé Rocks!-kompetisie (waar rooskleurige wyne onder die loep kom) deur ’n dubbelgoue medalje los te slaan. Welverdiend!

Wanneer jy nie kan besluit tussen rooi of wit nie, kies pienk, Villa Esposto-pienk! Jy sal nie spyt wees nie. Sy alkohol-inhoud is ook nie so hoog nie, vir diegene wat belang stel, slegs 12,26%.

Klawer se Villa Esposto Rosé 2016 kos R65 by die kelder. Gaan koop ’n kis. Dis ’n belegging in jou lewensgenot.

Vir meer inligting of om jou kissie te bestel, kontak Klawer Cellars by 027 216 1530, stuur ’n epos aan info@klawerwyn.co.za of besoek www.villaesposto.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>