Aspirant-wynmakers wat deel is van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program gaan die kans kry om hul eie wyne in hul eie wynvate te maak danksy ‘n skenking van Franse Quintessence-houtvate deur die Cape Cooperage Groep van die Paarl.
Die Cape Cooperage Groep het intussen hul ooreenkoms met die gilde verleng en sal tot 2014 aan elke protégé in hul tweede jaar ‘n wynvat skenk en sodoende verseker dat toekomstige protégés ook die geleentheid sal hê om met hul eie wyne te eksperimenteer.
Elmarie Botes, wat gedurende 2011 haar eerste jaar van internskap voltooi het, beweeg vanjaar van Steenberg na Kanonkop. Hier sal sy verder in die kuns van wynmaak gementor word deur die wynmaker, Abrie Beeslaar, en ook die geleentheid hê om haar heel eerste wyn te maak.
Tamsyn Jeftha en Sacha Claassen, albei in hul derde jaar van internskap en die eerste protégés om elk 'n wynvat by die Cape Cooperage Groep te ontvang, het gedurende 2011 hul eerste wyn gemaak. Hierdie wyne is nog steeds in die vate.
Terwyl Tamsyn verlede jaar in noue samewerking met Jeff Grier by Villiera was, sal sy haar internskap vanjaar by Carl Schultz op Hartenberg deurbring. So ook sal Sacha Claassen, wat in die kelder van Nitida met Bernhard Veller gewerk het, nou onder die mentorskap van Charles Hopkins by De Grendel werk.
"Ons is trots om deel te wees van die gilde se Protégé-program deur hulle te help om die jong wynmakers hul volle potensiaal te laat bereik. Ons glo dat hierdie inisiatief sal help om die wynbedryf een wynvat op 'n slag te transformeer, "sê André Kotze, besturende direkteur van die Cape Cooperage Groep.
Die produksie van die protégés se wyn vorm deel van hul driejarige Protégé-program. Daar word ook van die protégés verwag om ‘n begroting op te stel en produksie- en bemarkingstrategieë te beplan sodat hulle op hierdie manier waardevolle ervaring kan opdoen deur ook blootgestel te word aan die produksie, bemarking en verkoop van ‘n wyn.
Die wyne word aangebied by die gilde se liefdadigheidsveilings en die geld word geskenk aan die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-trust.
Die protéges word die kosbare geleentheid gebied om onder leiding van top wynmakers wat lede is van die gilde te kan leer. Lede van die gilde mentor hul protégés vir ‘n minimum van ses maande en sodoende ontwikkel die protégés waardevolle praktiese vaardighede en bou hulle uitstekende ondervinding op.
Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is in 2006 gestig onder leiding van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-trust met die doel om transformasie in die wynbedryf aan te moedig deur jong wynmakers te ontwikkel, te kweek en aan hulle die nodige vaardighede te leer sodat hulle self puik wynmakers kan word.
Vir meer inligting oor die gilde, skakel 021-852-0408, stuur ‘n epos aan info@capewinemakersguild.com of besoek www.capewinemakersguild.com. Studente wat belang stel om aansoek te doen vir die Protégé-program, kan die gilde se webtuiste besoek by www.capewinemakersguild.com.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast