Die Kaapse Wynmakersgilde het onlangs beurse aan twee Enologie en Wingerdboukunde-studente van Elsenburg Kollege toegeken as deel van hul voortdurende Protégé-program wat poog om jong, vooruitstrewende wynmakers te ontwikkel. Die beurse bied die studente finansiële steun tydens hul finale jaar van studies, waarna hulle vir die gilde se driejaar-internskapprogram in aanmerking sal kom.
Vanjaar se ontvangers van die Kaapse Wynmakersgilde Protégé-beurse is Chandre Petersen van die Paarl en Sifiso Mbhele van Bergville in Kwa-Zulu Natal.
Chandre is reeds van kindsbeen af betower deur die omvattende eienskappe van wyn danksy haar pa wat haar saans toegelaat het om sy glas wyn te bestudeer, en beoog om pinotage, merlot en chenin blanc haar spesialiteite te maak.
“Ek het groot geword in die Paarl, ‘n streek wat alombekend is vir sy gehaltewyn, maar het selde ‘n vrouewynmaker teëgekom. Dit was egter ‘n uitdaging vir my en vandag is ek vasbeslote om suksesvol in die wynbedryf te wees,” vertel Chandre.
Sifiso het groot drome en sal nie swig voordat hy eendag ‘n keldermeester is nie. “In Suid-Afrika is wynmaak ‘n gesiene vaardigheid wat baie deure vir jou kan oopmaak. Ek wil die mense van my tuisdorp inlig oor wynmaak en die geleenthede wat dit bied, sowel as jongmense aanmoedig om dit as ‘n beroep te oorweeg.”
Sodra albei studente hul graad ontvang het, sal daar ‘n onderhoud met hulle gevoer word waartydens hulle oorweeg sal word vir die Kaapse Wynmakersgilde Protégé-program, ‘n internskap waartydens studente die geleentheid gegun word om hand aan hand met van die land se beste wynmakers, wat lede van die gilde is, te werk en sodoende van hulle te leer.
Dit is die tweede jaar wat die gilde beurse aan studente toeken. Verlede jaar se beurshouers, Sacha Claassen en Tamsyn Jefta, is albei onlangs verwelkom by die Gilde se Protégé-program vir 2010 en het reeds hulle opleiding onderskeidelik by Villiera en The Company of Wine People begin.
Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is in 2006 gestig onder leiding van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-Ontwikkelingstrust met die doel om transformasie in die wynbedryf te bevorder deur jong wynmakers te ontwikkel, te kweek en aan hulle die nodige vaardighede te leer sodat hulle self puik wynmakers kan word.
Die bemagtigende onderrigbeurse van die gilde, wat deur AGRI-Seta ondersteun word, verg uitstekende punte en ‘n buitengewone aanleg vir wynmaak.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast