Kaapse Wynmakersgilde ken agtste beurs toe

Date posted:
June 13, 2012

Die Kaapse Wynmakersgilde het pas hul agtste beurs aan ’n student aan die Elsenburg-Landboukollege toegeken as deel van hul voortdurende Protégé-program wat  poog om jong, vooruitstrewende wynmakers te ontwikkel. Die beurse bied studente finansiële steun tydens hul finale jaar van studies, waarna hulle vir die Gilde se driejaar-internskapprogram in aanmerking kom.

 

Vanjaar se ontvanger van die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-beurs is Wade Sander vanaf Northcliff in Johannesburg wat tans Enologie en Wingerdboukunde by Elsenburg studeer.

 

Wade het besluit om die goudmyne vir die Kaapse wynlande te verruil nadat die boeiende kompleksiteit van wyn sy verbeelding begin prikkel het. Die passie en begeerte om sy eie wyn te maak, het hom gedryf om by Elsenberg op Stellenbosch in te skryf.

 

"My droom is om my eie organiese wynlandgoed te besit waar ek druiwe kan kweek en uitstekende wyne onder my eie etiket kan maak," sê Wade, 'n derdejaarstudent met 'n groot waardering vir die natuur.

 

Sodra Wade sy graad ontvang het, sal daar ‘n onderhoud met hom gevoer word waartydens hy oorweeg sal word vir die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program, ‘n driejarige internskap waartydens studente die geleentheid gegun word om hand aan hand met van die land se beste wynmakers, wat lede van die Gilde is, te werk en sodoende van hulle te leer.

 

Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is in 2006 gestig onder die vaandel van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Ontwikkelingstrust, en met die doel om transformasie in die wynbedryf aan te help deur jong wynmakers te ontwikkel, te kweek en aan hulle die nodige vaardighede te leer sodat hulle self puik wynmakers kan word.

 

Dit is die vierde jaar wat die Gilde hierdie beurse aan studente toeken. Die beurse van die Gilde wat deur AGRI-Seta ondersteun word, verg uitstekende punte en ‘n buitengewone aanleg vir wynmaak.

 

Studente wat belangstel om aansoek te doen vir die Protégé-program, kan die Gilde se webtuiste besoek by www.capewinemakersguild.com, of stuur ‘n epos aan info@capewinemakersguild.com, of skakel 021 852 0408. 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram