Kaapse Vonkel kry nuwe baadjie op 40!

Date posted:
September 27, 2011

Suid-Afrika se eerste Méthode Cap Classique, die ikoniese Simonsig Kaapse Vonkel, vier sy 40ste verjaarsdag met ‘n nuwe, meer gesofistikeerde voorkoms wat die erfenis en status van hierdie legendariese Stellenbosse vonkel met oorgawe tuisbring.

 

Die 2009-oesjare van die Kaapse Vonkel Brut en Kaapse Vonkel Brut Rosé pronk nou in ‘n baadjie met ’n afgeronde, luukse voorkoms wat in pas is met Simonsig se aansien as die land se Cap Classique-pionier.   

 

“My oorlede pa, Frans Malan, het merkwaardige baanbrekersvernuf getoon toe hy die land se eerste bottelgegiste vonkelwyn, gemaak volgens die eg Franse tradisie, in 1971 die lig laat sien het. Vanjaar vier ons hierdie mylpaal en is dit net gepas dat ons vir ons Kaapse Vonkel so ‘n ‘mini facelift’ gee op sy 40ste verjaarsdag,” vertel Simonsig se keldermeester, Johan Malan.

 

Subtiele veranderinge en vernuwings aan die voorkoms sluit in ‘n embleem as Suid-Afrika se eerste Cap Classique, terwyl die etiket, wat op spesiale, ingevoerde pêrel-papier gedruk is, asook die Kaapse Vonkel-naam nou meer prominent vertoon.

 

Om Kaapse Vonkel se 40ste bestaansjaar te kroon, is Simonsig ook pas aangewys as die koning van Cap Classiques op vanjaar se WINE Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge toe dit as algehele wenner en die beste Blanc de Blancs aangewys is.

 

Meer oor die geskiedenis van Kaapse Vonkel

 

Toe Frans Malan sy eerste vonkelwyn gemaak het, het hy besluit om dit Kaapse Vonkel te doop omdat hy gedink het dat dit die generiese naam vir alle plaaslike Méthode Champenoise-wyne sou word.

 

Ander wynplase het flink in sy vonkel-voetspore gevolg, maar hulle het hulle eie name aan hulle vonkelwyne gegee, en so het Simonsig Kaapse Vonkel toe sy naam behou. Vandag word daar jaarliks meer as 300 000 bottels Kaapse Vonkel gemaak. In die beginjare het daar maar ‘n skamele 10 000 per jaar die lig gesien.

 

Terug in 1971 is die eerste Kaapse Vonkel – wat toe teen R3 per bottel die duurste plaaslike wyn op die rakke was – gemaak van chenin blanc-druiwe in plaas van die klassieke sjampanje-kultivars chardonnay en pinot noir.

 

Johan Malan – seun van wyle Frans Malan en vandag die keldermeester aan’t stuur by Simonsig – het eers in 1987 begin om die Kaapse Vonkel van pinot noir en chardonnay te maak. Tien jaar later het Kaapse Vonkel toe ook die eerste Cap Classique geword wat gemaak is van al drie die klassieke druifvariëteite wat gebruik word in egte sjampanje toe pinot meunier in 1997 vir die eerste keer bygevoeg is.

 

Na 40 jaar is Kaapse Vonkel steeds een van Suid-Afrika se gunsteling- Cap Classiques. Verlede jaar was dit die gekose Cap Classique aan boord van die Suid-Afrikaanse Lugredery se vlugte gedurende die 2010- sokkerwêreldbekertoernooi. Kaapse Vonkel is ook geen groentjie as dit kom by die jaarlikse WINE Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge nie. In 2002 het sy 1999-oesjaar die kompetisie se heel eerste kroon verower en in 1999 het die landgoed skoonskip gemaak deur sowel die eerste as die tweede plek te behaal met die 2005-oesjaar.

 

Simonsig Kaapse Vonkel Brut 2009

 

Die delikate, verfrissende Cap Classique-simfonie van pinot noir (55%), chardonnay (43%) en pinot meunier (2%) het heerlike vrugintensiteit en uitsonderlike dimensie.

 

Dit bekoor met blomaromas met ‘n sweempie sonryp Golden Delicious en sitrus-varsheid in die neus. Klassieke beskuitjiegeure ontwikkel tot ‘n nostalgiese ervaring van vars gebakte brood op die tong, terwyl die uitsonderlike fyn en romerige mousse ‘n eksotiese smaak van geroosterde amandels in die mond aanvul. Verbeel jou ‘n happie suurlemoentert wat langsaam talm tot ‘n skoon, verfrissende einde in die mond. Hierdie wyn het in die September 2011-uitgawe van WINE 4 stere ingepalm.

 

Hoeveel kan jy verwag om te betaal:        R98 per bottel.

 

Voorgestelde kosmaats:                          Heerlik op sy eie of saam met vars oesters, geurige patees, ligte soppe, sushi, of saam met ‘n delikate soet nagereg.

 

Simonsig Kaapse Vonkel Brut Rosé 2009

 

Hierdie romantiese bederf is ‘n elegante ambassadeur vir Cap Classiques wat pinotage gedrewe is. Die 2009-oesjaar is ‘n stylvolle versnit van 80% van hierdie trots Suid-Afrikaanse druifvariëteit, klassiek afgerond met pinot noir (17%) en pinot meunier (3%).

 

Die Kaapse Vonkel Brut Rosé 2009 streel die sintuie met ‘n spookasempienkgelaat en perfekte, delikate pêrelborrels, terwyl roosblaar- en aarbeigeure in die neus domineer. ‘n Fyn, romerige mousse verfris ‘n blomryke boeket in die mond, terwyl ‘n volronde lyf en vars vrugte-intensiteit elegant gebalanseer word met ‘n subtiele suurheid.

 

Hoeveel kan jy verwag om te betaal:        R98 per bottle.

 

Voorgestelde kosmaats:                         Gerookte salm, kreef thermidor, Japanese sushi, vrugteslaaie met rooibessies, ligte seekosslaaie en Chinese en Thaise geregte.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram