Die 2008-oesjaar van Prima, die rooi versnit van Le Bonheur naby Stellenbosch wat dié landgoed versinnebeeld, wat pas bekend gestel is, verskil effe van sy oorspronklike samestelling. Merlot oorheers steeds, en daar is steeds cabernet sauvignon in die versnit, maar vir die eerste keer bevat dit ook cabernet franc.
Plaaslike wynliefhebbers het Le Bonheur se prima nog altyd hoog aangeslaan en die wyn word gereeld by die Nederburg-veiling aangebied. Vanjaar gaan dit weer so wees, want ’n klompie kiste van die 2011-oesjaar gaan in September by dié glansgeleentheid onder die hamer kom.
Sakkie Kotzé, wat al sedert 1993 Le Bonheur se wyn maak, sê die cabernet franc voeg nog ’n tikkie klassieke smaak by die versnit – die enigste in die portefeulje. Die ander drie (chardonnay, sauvignon blanc en cabernet sauvignon) is almal enkelkultivarwyne.
“Vir die voorsienbare toekoms sal Prima altyd ’n bepaalde persentasie cabernet franc bevat. Die verhouding tussen die drie kultivars sal van die een oesjaar na die volgende verskil om ’n harmonieuse smaakspektrum te verseker. Vir die 2008-oesjaar het ons 68% merlot, 20% cabernet franc en 12% cabernet sauvignon gebruik, maar vir die 2009-oesjaar sal dié verhoudings effens anders wees.”
Die cabernet franc-druiwe kom van wingerde wat in 2003 geplant is. “Ek glo daaraan om jong wingerde tyd te gun om in te bed en te ontwikkel. Die cabernet franc-druiwe wat vir die 2008- Prima gebruik is, kom van wingerde wat bykans ses jaar oud is. Daarenteen is die cabernet sauvignon- en merlot-druiwe geoes van volgroeide wingerde wat in die middel jare tagtig geplant is.”
Hy het die wyn van elke blok apart tot wyn gemaak, en het die mos vir ’n sagter tekstuur en meer karakter van 14 tot 30 dae ná gisting op die doppe laat lê. Sakkie het die onderdele vir die versnit 18 maande lank in klein, nuwe vate van Franse en Amerikaanse eikehout laat verouder en die finale versnit etlike maande lank in die bottels laat rus. Danksy dié rus kon al die onderdele ook ten volle integreer.
Die 2008- Le Bonheur Prima is vir amper R100 per bottel by vooraanstaande wyn-afsetpunte te kry.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast