Jongste oesjaar van Eikendal se vlagskip kry nuwe voorkoms

Date posted:
December 6, 2011

Eikendal, die prominente Stellenbosse wynkelder geleë aan die voet van die Helderberg in ‘n area bekend vir gesogte rooiwyne, het pas die 2009-oesjaar van sy elegante Classique bekend gestel. Die Classique is ‘n Bordeaux-styl versnit wat met trots die kroon dra as die landgoed se vlagskip-rooiwyn en ook nou met ‘n nuwe stylvolle voorkoms spog. 

 

Eikendal se Classique 2009 vang nou die oog met ‘n meer treffende, skoner swart-en-wit-etiket wat die erfenis en prestige van hierdie landgoed duidelik tuisbring en deel is van ‘n splinternuwe, meer gesofistikeerde voorkoms vir die landgoed se premie-wyne.

 

“Ons het besluit om ons vlagskip- en kultivarreeks wyne ‘n mini-‘facelift’ te gee om ‘n meer elegante voorkoms te verleen wat weerspieël wat van die inhoud van die bottels verwag kan word,” verduidelik die wynmaker, Nico Grobler.

 

Nico beskryf sy Classique as “’n wyn wat strewe na absolute reinheid” en die jongste 2009-oesjaar is merlot-gedrewe (52%) wat veelvuldige lae, delikate aromas en ‘n vroulike sagtheid  verleen, terwyl dit ook cabernet sauvignon (28%) en cabernet franc (20%) bevat.

 

“Ons wingerde floreer in ‘n gunstige terroir wat geraam word deur die Helderberg in die agtergrond en Valsbaai aan die anderkant, met Tafelberg in die verte. Die 2009-oesjaar van ons Classique het ‘n ferm struktuur, net soos die Helderberg, terwyl dit ook smeul van elegansie en finesse, soos net die koel briese van die nabygeleë see kan voorsien,” verduidelik Nico.   

 

In die kelder is die druiwe selektief met die hand gesorteer en stadig gegis. Elk van die drie verskillende komponente het 18 maande in die vate deurgebring voordat die wyn gebottel is, waarna dit vir nog ses maande bottelverouder is voordat dit bekend gestel is.

 

Die Classique 2009 met sy diep baksteenrooi gelaat is ‘n sensuele, dog stewige rooiwyn met ‘n komplekse bessieboeket wat harmonieus aangevul word deur ‘n subtiele eikehout-smaak. Op die tong talm die wyn met ferm dog delikate kompleksiteit en eindig met ’n talmende nasmaak. ‘n Sysagte tannienstruktuur beïndruk en verleen uitstekende verouderingspotensiaal aan die wyn.

 

Eikendal Classique 2009 smaak vorentoe saam met filet-medallions en vars roket – die wynmaker se gunsteling – asook springbok-carpaccio met olyfolie en swartpeper. Vegetariërs kan hierdie wyn geniet saam met geroosterder eiervrug-en-mozzarella-torings of ‘n lekker beetslaai. Of bedien dit saam met ‘n ryk sjokolade-en-bessietert op Valentynsdag.

 

Die wyn is beskikbaar vanaf R150 per bottel by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante of direk vanaf die kelder.

 

Vir meer inligting of wynbestellings, skakel Eikendal by 021 855 1422 of stuur ‘n epos aan orders@eikendal.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram